CrimeNews

Kameras verkoop vir dwelmgeld

Kringtelevisiekameras en ander items word in Krugersdorp se sakekern gesteel vir die doel om dwelms te koop.

Verskeie diefstalle van kringtelevisiekameras en inbrake is die afgelope paar maande in Krugersdorp se sakekern opgemerk en aangemeld.

‘n Informant, wat om persoonlike redes nie genoem wil wees nie, het aan die NUUS vertel dat dié kameras gesteel word en dan as ‘n ruilmiddel gebruik word om vir goedere soos dwelms te kan betaal.

Hy sê hulle het op die persone wat die kameras koop en dan weer verkoop afgekom.

“Die kameras wat afgesteel word, word aan iemand in Krugersdorp se sakekern en in Mindalore verkoop. Twee persone van ‘n besigheid in die sakekern waar dit afgesteel is, het van hulle kamera’s daar uitgeken en is dit nou as bewysstukke by die Krugersdorp Polisiestasie.”

Hy sê dat die aantal inbrake in die gebied ook heel waarskynlik met dwelms te doen het.

“Die goedere word gesteel om vir ‘n fix te kan betaal en die die waarde van ‘n item speel geen rol nie; elke item wat gebring word is gelykstaande aan een fix.”

Willie Fourie, eienaar van Dental Connection, ‘n tandheelkundepraktyk in Ockersestraat het vroeër aan die NUUS gesê indien die inbrake en diefstal voort sou gaan, kan dit beteken dat besigheidseienaars hulle besighede kan toe maak as gevolg van verliese wat gely word of kan dit na ‘n ander dorp toe neem.

Sy besigheid is in April maand by ingebreek waarby duisende rande se goedere insluitend al sy kringtelevisiekameras gesteel is.

Skaars drie weke later is sy kringtelevisiekameras buite die gebou weer afgesteel en in dieselfde tydperk is nog ander besighede insluitend ‘n ander tandheelkunde in Burgerstraat se kringtelevisiekameras ook afgesteel.

Die eienaar van dié tandheelkunde, dr Gordon Channon sê dit is bevredigend om te weet die kameras is teruggevind, want hy het nie gedink dat hulle dit weer sou sien nie.

Alhoewel hulle dieselfde dag toe daar opgemerk is dat die kameras weg is ‘n ander een laat opsit het, is die terug gevinde kamera nou nutteloos.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button