Misdadigers laat hulle nie stuit nie
'n Paartjie het misdaad slagoffers geword drie dae nadat hulle by 'n woonstel in Krugersdorp intrek.

Na slegs drie dae wat Sakkie (75) en Johanna (68) van der Merwe by ‘n woonstel in Ockersestraat as nuwe Krugersdorpers ingetrek het, was hulle slagoffers van misdaad.
Van der Merwe wat op die grondvloer van die woonstelgebou woon het aan die NUUS vertel dat sy vierjarige pikenese hondtjie Chappies hom die oggend van 15 Junie omstreeks 2.30vm wakker geblaf het.
“Ek het wakker geword en iemand sien beweeg waarna ek uit die bed uit gespring het en net begin skree het.”
Hy sê die inbreker wat moontlik toegang deur die badkamervenster verkry het, al is daar diefwering daar voor, het toe gevlug.
“Die voordeur was oop en dit lyk of hulle reeds ‘n ruk lank besig was. Hulle kom so suutjies in ‘n mens se plek in.”
Johan van Dalen (42) wat twee huise van die woonstelgebou af woon sê hy het gehoor hoe iemand skree dat die polisie gebel moet word en is uit na buite.
“Die polisie is ontbied en was hier, maar hulle het niks gekry nie en het weer gery.”
Van Dalen wat kringtelevisies om sy huis aangebring het kon sien hoe iemand, moontlik ‘n verdagte sowat vyf minute voordat Van der Merwe geskree het by die stopteken gestaan het.
‘n Informant het aan die NUUS gewys dat dieselfde verdagtes wat op Van Dalen se kameras vasgevang is sowat 200 meter van die toneel op sy kameras te sien is.
Daar kan gesien word dat hulle gereeld hulle kledingstukke verander het en op verskeie kere in verskeie rigtings gegaan het voordat hulle mekaar weer by ‘n sekere punt ontmoet.
Die informant sê dat hulle opportunistiese misdadigers is wat op die uitkyk is vir geleenthede waar hulle misdaad kan pleeg.
Van der Merwe sê die inbreker het met geld en ‘n selfoon gevlug.
“My seun het nou vir my ‘n alarmstelsel ingesit, want na die gebeure is my vrou nou so getraumatiseerd, sy wil net trek, maar omdat ek ‘n twaalf maande kontrak geteken het is dit nie nou moontlik nie.”
Hy sê ‘n mens sou dink dat ‘n mens meer veiliger in ‘n woonstel sou wees, maar het nou geleer dat misdadigers nie bang is om by enige plek in te breek nie.
Hy het ‘n saak van inbraak en diefstal by die Krugersdorp Polisiestasie aangemeld.