CrimeEditor's choiceNews

Sleepwadief in sy spore gestuit

'n Sleepwa wat reeds vir 19 jaar die brood en botter van 'n tuindienste-eienaar is, is amper gesteel.

Die eienaar van ‘n tuindienste-onderneming in Krugersdorp was verbaas toe sy sleepwa, waarop sy tuingereedskap gehou word, helder oordag amper nuwe eienaars gekry het.

Koos Dreyer (61) gebruik reeds 19 jaar lank hierdie sleepwa vir sy onderneming en sê dat dit wat op Vrydag 11 Junie omstreeks 11vm gebeur het, ‘n eerste was. Hy wil vir mense vertel dat tuindienste ook onder misdaad deurloop.

“Wanneer daar by mense ingebreek word, verdink hulle gereeld die tuindienste, maar ek weet dat my werknemers eerlike mense is, want hulle het al van my kliënte se beursies in hul erwe opgetel en terugbesorg.”

Dreyer vertel dat hy sy sleepwa elke Vrydag by ‘n huis by die aansluiting van Sarel Cilliers- en Amajubastraat laat omdat dit sy enigste geleentheid is om sy banksake te doen.

“My werknemers kry dan ook hulle etenstyd en wag vir my daar voordat ons aan die laaste paar tuine werk.”

Onderweg na die bank kry hy ‘n oproep van sy voorman Paulus Kambago dat ‘n man met ‘n klein Nissan-vervoertrok my sleepwa gehaak het en daarmee probeer wegry het, maar dat hulle hom kon keer.

“Ek het als gelos waarmee ek besig was en is dadelik terug om te gaan kyk wat aangaan,” sê Dreyer.

Hy sê hy dink die verdagte het gedink hy kon gou die sleepwa haak omdat hy geglo het dat niemand hom sou sien nie. Sy werknemers wat besig was om hulle middagete te geniet, het hom egter gesien.

“Hulle was op ‘n perseel met mure en toe hulle ‘n geraas hoor, het hulle oor die muur geloer en gesien dat ‘n onbekende die sleepwa gehaak het.”

Hy sê sy voorman en nog vier van sy werknemers het blitsig op die sleepwa gespring en die bestuurder gedwing om te stop.

“Hulle het die ruite van die verdagte se voertuig met die tuingereedskap stukkend geslaan en vir die bestuurder gesê as hy nie dadelik stop nie gaan hulle die tuinvurke in sy keel druk.”

Dreyer en die polisie het by die toneel opgedaag, verklarings afgeneem en die verdagte se voertuig sowel as Dreyer se sleepwa as bewystukke weggeneem.

‘n Saak van diefstal is by die polisie geopen.

Dreyer gebruik nou sy vrou Ria se sleepwa omdat hy syne eers sal terugkry sodra die polisieondersoek afgehandel is. Sy is ook in die tuindienstebedryf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button