Pensioentrekkers weer misdaadslagoffers
Minder as 'n maand nadat daar by hulle woonstel ingebreek is, is hulle enigste vervoermiddel gesteel.

Eers was ‘n pensioentrekker-egpaar die slagoffers van ‘n huisinbraak en nou is hulle enigste vervoermiddel hulle ook ontneem.
Sakkie van der Merwe (75) vertel met ‘n seer hart dat diewe helder oordag op 3 Julie nou ook met sy blou 1991 Nissan Sentra weggekom het.
Hy het omstreeks 4.15nm van die winkels af gekom en het die eerste inkopiesakke in sy woonstel in Ockersestraat ingedra. Daarna sou hy die ander sakke wat nog in die motor was, gaan haal.
“My skoondogter, wat ook in dié straat woon, roep my oomblikke later en sê dat my kar gesteel is, want hulle het agtergekom dat die kar met ‘n spoed wegtrek en weet dat ek nie só bestuur nie.”
Hy sê hy het die polisie ontbied en ‘n saak van motordiefstal is geopen.
Johan van Dalen, ‘n buurman in die straat wat oor ‘n kringtelevisiestelsel beskik waarmee hy kan sien wat in die straat gebeur, het vir Van der Merwe gewys hoe iemand uit ‘n Jetta klim en straataf stap.
“Hy het toe weer opgestap en by die passasierskant van my kar gepeuter. Daarna is hy na die bestuurderskant toe, waar hy die deur oopgekry het. Hy het onder by die stuurwiel gewerskaf en binne sekondes is hy weg met my kar.”
Van der Merwe sê hy sluit gewoonlik sy stuurwiel met ‘n slot, maar hy het dit toe nog nie gedoen nie.
“Dit is nou ‘n groot verlies vir my, want dit is al motor waarmee ek ry.”
Hy sê die krukke waarmee hy dikwels loop asook sy gereedskap en die ander inkopies is nou skoonveld.
“Ek en my vrou is ook nou in die proses om te trek, want sy kon ook nog nie die trauma van die inbraak verwerk nie.”
Hy en sy vrou Johanna (68) is op 15 Junie in die vroeë oggendure deur hulle vierjarige Pekingese-hondjie Chappies wakker geblaf toe ‘n inbreker toegang tot hulle woonstel verkry het en met ‘n selfoon en geld gevlug het.