Local newsNews

‘n Renosterverjaarsdag vir Annika

'n Dogtertjie vier haar vierde verjaarsdag met 'n partytjie om fondse in te samel vir haar gunsteling dier wat bedreig word.

‘n Driejarige dogtertjie van Krugersdorp het besluit om haar vierde verjaarsdag op ‘n besondere manier te vier deur fondse vir bedreigde renosters in te samel.

Annika Oberhaulzer en haar gesin het by Nampo se Oesdag op ‘n renosteruitstalling afgekom waar Annika besluit het dat sy ‘n renostertema vir haar vierde verjaarsdagpartytjie wou hê.

“Ek het die Rhino Orphanage en Tarlton New Holland gekontak om te hoor of hulle bereid sal wees om op 13 Julie die renosteruitstalling na my dogtertjie se verjaarsdagpartytjie te bring, waarop hul ingestem het,” vertel Annika se ma, Karla Oberhaulzer.

Ses-en-twintig van Annika se maatjies het ‘n uitnodiging ontvang met ‘n spaarbeursie aangeheg wat die kleuters gedurende die skoolvakansie met kleingeld moes volmaak wat aan die Rhino Orphanage geskenk sal word.

Die span van Tarlton New Holland het toe besluit om die uitstalling vir almal toeganklik te maak en het dit op 10 Julie na Key West-winkelsentrum toe geneem.

By die uitstalling het Annika skaam saam met twee verteenwoordigers van Tarlton New Holland – Koetoe Botha (Direkteur) en Theo Pieterse – vir ‘n foto geposeer.

Tarlton New Holland het saam met Rhino Orphanage besluit om later dié maand landswyd met die uitstalling te toer om fondse vir die Rhino Orphanage in te samel.

Die toergroep gaan oor ‘n tydperk van twee maande sowat 3 000 kilometer van Kaapstad tot by die Entabeni-roete reis om te probeer om R5 miljoen in te samel.

Vir meer inligting oor die toer en hoe jy ‘n verskil kan maak, skakel Koetoe Botha by 079 207 0985 of stuur ‘n epos na koetoe@tarltonnewholland.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button