Beseerdes herroep ongeluk gebeure
Die voertuig het glo teen 'n hoë 'n spoed by Schoemanstraat afgery gekom.
Vier mense, waarvan twee leerlinge van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs is, is beseer toe hulle vroegoggend op 30 Julie in ‘n botsing betrokke was.
Na die ongeluk het die twee seuns uitgeklim en op die sypaadjie inmekaargesak
Die botsing het omstreeks 7vm op ‘n draai op Schoemanstraat sowat 300 meter van dié skool af plaasgevind.
“Dit het als so vinng gebeur. Toe ek my weer kon kry het twee voertuie in my voertuig vasgery,” sê Albert Kruger wat sy seun Shawn (15) en sy seun se vriend Bernito Guarini (16) skool toe geneem het.

Hy sê die bestuurder van ‘n Mazda het teen ‘n hoë spoed gery en het moontlik beheer oor die voertuig verloor en in hom vasgery, waarna ‘n bakkie die agterkant van sy motor gestamp het. Met dié slag het sy kop die windskerm getref en Bernito, wat voor gesit het, het die windskerm met sy kop twee keer getref.

“Na die ongeluk het die twee seuns uitgeklim en op die sypaadjie inmekaargesak,” sê Albert wat gesig-, knieg- en elmboogbeserings opgedoen het.
Bernito, wat die ergste beseer is, het die bloed wat by sy oog uitgestroom het probeer keer en sê die gemeenskap was baie hulpvaardig.

“Leerlinge het hulle baadjies oor ons gegooi, mense het komberse gebring en ‘n oom het selfs vir my ‘n lap gebring om die bloeding te stop.”
Bernito het ook ‘n kop- en nekbesering opgedoen.
Shawn het sy nek en laerug tydens die ongeluk beseer.

“Ons is net dankbaar dat hulle nog met ons is en nie te ernstig beseer is nie,” sê Albert se vrou, Elsabe.
Volgens inligting is net die passasier van die Mazda beseer.
Bernito se ma, Elize Brits sê sy het die ergste verwag toe mense haar by die huis kom haal het en sê dat haar seun in ‘n ongeluk betrokke was.
“Ek het nie eens geweet hy het saam met ‘n vriend gery nie, ek het gedink ‘n voertuig het in hom vasgery terwyl hy skool toe geloop het.” Sy sê die skool het Bernito vir ‘n tweede opinie vir sy oog na ‘n dokter gestuur waar daar vasgestel is dat hy slegs ‘n snymerk op die ooglid opgedoen het en dat dit nie ‘n gevaar inhou nie. ‘n Onderwyser wat nie geïdentifiseer wil wees nie sê dat die kinders van die skool spontaan gebid het dat niemand ernstig beseer moet word nie.
“Hier by HTS Nic Diederichs is ons almal soos ‘n familie.”
Die Krugers se enigste vervoermiddel sal afgeskryf word en hulle maak nou van ‘n geleende voertuig gebruik.
Elsabe en Elize sê hulle wil graag almal bedank wat hulle geliefdes so spoedig te hulp gesnel en bystand gelewer het.
