Meer as 100 000 km probleemvry
Die bestuur van 'n vervoermaatskappy vereer hul werknemer.
Joseph Kgori (34), ‘n werknemer van Pander Transport is vereer nadat hy meer as 100 000 probleemvrye kilometers met sy trok afgelê het.
Sy werkgewer Coen van Niekerk, logistieke en algemene bestuurder van die Muldersdrift depot sê hulle het besluit om vir Joseph met ‘n sertifikaat te beloon asook om vir hom die kans te gee om sy kode 14-rybewys te kry. Tans is hy in besit van ‘n kode 10-rybewys.
“Dit was nog altyd sy droom om hierdie tipe lisensie te kry en nou wil ons hom daarmee help,” sê Coen.
Hy sê Joseph, wat reeds 109 286 kilometer vir die maatskappy afgelê het, het die trok wat hy sowat drie jaar gelede splinternuut ontvang het toe hy daar begin werk het, met sorg hanteer.
“Hy was nog nooit daarmee in ‘n ongeluk betrokke nie en het ook nog nooit enige boetes vir verkeersoortredings ontvang nie.”
Coen sê die toekenning is ook gedoen om sy kollegas daardie aansporing te gee om in sy voetspore te volg.
“Hy is ‘n baie lojale werker omdat hy altyd sy werk stiptelik uitvoer en dit is met dankbaarheid dat ons hom vir sy ononderbroke hoë prestasie wil vereer.”
Joseph sê hy is dankbaar vir die geleentheid wat hy kry en is heel beskeie oor sy prestasie.
“Ek het nooit gedink dat ek so iets sal kry nie. Dit is ‘n baie lekker gevoel om te weet dat my harde werk raakgesien word.”
Op die vraag waar hy sy toekenning gaan plaas, skerts hy, “Ek het nou nie ‘n plek van my eie nie, ek huur net, maar glo ek sal iewers ‘n plekkie daarvoor kry”.
