Linmar vier 19 gelukkige jare
Om dit te vier is die vroue wat deel is van dié naaldwerkprojek met 'n heerlike middagete beloon.
Linmar Werkskepping, ‘n naaldwerkprojek wat deur die Hervormde Kerk van Suid-Afrika gestig is om minder gegoede vroue die geleentheid te gee om iets skeppend te doen, vier vanjaar sy 19de bestaansjaar.
Tot dusver het 62 vroue al opleiding en ondervinding in die naaldwerkbedryf opgedoen waarvan drie vroue nou hulle eie besighede van die huis af bedryf.
Agt vroue is deesdae elke werksdag druk besig agter die naaldwerkmasjiene en baie van hulle is ook die broodwinners van hulle huishoudings.
Elize Pike, die bestuurder van Linmar wat al 18 jaar by hierdie projek betrokke is, sê vanjaar sal aan Hester Potgieter opgedra word wat vir 18 jaar die bestuurder was, maar skielik oorlede is.
“Die 19de bestaansjaar gaan ook aan die vroue opgedra word en om hulle vir hulle harde werk en toewyding te beloon, het die NG-gemeente Culembeeck geld geskenk wat vir ‘n smullekker middagete by die Carnivore Restaurant in Muldersdrift gebruik is,” sê Elize.
“Ons het gevoel dat dit belangrik is dat die vroue ‘n bietjie uit die area kom wat hulle daagliks sien en ‘n ander omgewing ervaar.”
Sy sê baie van die vroue kom nooit uit nie omdat baie nie die finansies of ‘n voertuig het om iewers heen te gaan nie.
“Om vir Linmar te werk is die ideale plek vir hulle omdat dit binne stapafstand vir hulle is.”
Linmar is in 1994 onder leiding van Helmien van der Walt en Rita Katze met twee naaldwerkmasjiene by die gemeenskapsentrum in Burgershoop begin.
Die Hervormde Kerk van Suid-Afrika wou die vroue in verskillende dorpe, insluitende Krugersdorp, die geleentheid gee om iets vir hulleself te doen.
“Die vroue uit die gemeenskap word opgelei en sodra hulle die nodige ondervinding en vaardighede het, kan hulle selfonderhoudend word.”
Elize sê Linmar het begin om klere en sweetpakke vir skole te maak, maar dit het intussen uitgebrei tot ‘n projek waar hulle reeds gholfhemde, klere vir hengelklubs, nagklere en dies meer gemaak het.
“Linmar gaan steeds van krag tot krag en dit is omdat die span hier nie skaam is om hulle vingers af te werk vir ‘n klein salaris nie.”
Sy sê Linmar adverteer selde en maak staat op mense wat deur ander na hulle verwys word.
“Ons gemeenskap gee baie terug vir ons. Hier by Linmar is ons nie kollegas nie, maar vriende – ons gee om vir mekaar en ek dink dit is wat Linmar so suksesvol maak.”
Vir meer inligting oor die klere wat Linmar maak, kontak Elize by 011 660 5252.
