‘Hulle gee waarlik om’
Janet en haar gesin wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om dankie te sê.
Janet en Juan van der Merwe se inkopie ervaring by President Hyper op ‘n besige Saterdagmiddag kon in ‘n nare situasie uitgedraai het, maar dit het nie.
Alhoewel die gebeure van daardie middag maar soos enige ander misdaadtoneel afgespeel het, is die Van Der Merwes verlig om te sê dat die flukse span van President Hyper hulle baie moeite gespaar het.
“Ons was besig om inkopies te doen toe my handsak reg onder my neus gesteel is. Ons het dadelik die situasie by die sekuriteit aangemeld,” vertel Janet aan die NUUS.
“Onmiddellik is daar werk daarvan gemaak om my handsak en die persoon wat dit gevat het, op te spoor. Nick het die wagte beveel om elke gang van die hipermark deur te soek terwyl ons by die uitgang gewag het. Intussen het Vicky gesorg dat ek en my familie kalm bly.
“Omdat elke persoon wat by die hipermark werk geweet het van my gesteelde handsak moes die persoon wat dit gevat het geweet hulle is op sy spore.” Janet sê dat die man het vermoedelik die sak in ‘n mandjie op die grond neergegooi en op ‘n manier die winkel verlaat. Die inhoud van haar handsak was gelukkig ook nog daar.
“Die verligting het my oorweldig.”
Maar wat hierdie geval vir die Van der Merwes so spesiaal maak is dat die personeel nie vir een oomblik met hul hande in die lug gestaan het nie. Nie eers die polisie sou reageer op so ‘n geval nie.
“Hulle sal net uitkom as dit vir versekeringdoeleindes is.”
Janet en haar gesin wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om dankie te sê aan Nick, Vicky en Thabiso wat hulle bygestaan en gehelp het daardie middag.
“Aan al die vroue daar buite, weet dit, as jy by President Hyper jou inkopies doen, sal jy verseker wees dat hulle vir jou sal sorg, selfs in jou moeilikste tyd, want hulle gee om vir hulle kliënte. En sulke kliëntediens is baie skaars.”
