Kaptein kuier in Krugersdorp
Kurt Darren bekoor sy Krugersdorp-aanhangers.
Bekende Afrikaanse popsensasie Kurt Darren het Saterdag 21 September sy aanhangers aan sy voete gehad tydens sy optrede by die Key West-winkelsentrum.
Dit was Kurt se eerste optrede aan die Wes-Rand sedert die motorongeluk in Julie, waarin hy en nog twee mense beseer is.
Alhoewel hy steeds herstel van die skedelbreuk en 11 gebreekte ribbes wat hy opgedoen het, het hy nie sy aanhangers van ‘n verwagte energieke optrede ontneem nie.
Hy het met ‘n sonbril wat die bekende oogklap moes bedek wat hy deesdae moet gebruik, op die verhoog gestap.
Alhoewel hy spottend na homself verwys het as die tydelike seerower in plaas van kaptein, het die oogklap nie sy jong aanhangers afgeskrik nie.
Die kleinspan kon nie genoeg van Kurt kry nie en hy was vir die grootste deel van sy optrede omring deur kinders wat die verhoog met hom wou deel.
Kurt se optrede was een van ‘n reeks wat deel uitmaak van die sentrum se somermusiekreeks wat in die nuwe amfiteater, ook bekend as The Park, aangebied word.

Ses bekende Afrikaanse sangers maak deel van dié reeks uit wat van September 2013 tot Februarie 2014 strek.
Kaartjies is binne die sentrum te koop en kos slegs R20.
Die ander kunstenaars wat gaan optree sluit in:
• Riana Nel — 12 Oktober
• Die Heuwels Fantasties — 2 November
• Adam and Ricus Nel — 7 Desember
• Jan Blohm — 25 Januarie
• Theuns Jordaan — 22 Februarie

