Aanval op nog ‘n egpaar in Muldersdrift
Aanvallers slaan man oor kop toe hy sê hy het nie vuurwapens nie.
René Hitz (62) ‘n inwoner van Larsensweg in Muldersdrift sê hy is gelukkig genoeg om sy verhaal te kan vertel nadat hy en sy vrou Jackie (54) op 27 September in hulle kothuis op ‘n hoewe aangeval is.
Die vrees is nog duidelik sigbaar in hulle oë wanneer hulle vertel van die oomblikke toe vier gewapende mans op hulle afgestorm het.
“Dit is my eie skuld dat dit gebeur het. Die hekke en deure was wawyd oop, want ‘n mens het dit nie verwag nie,” sê René.
Die egpaar was besig om die sepie 7de Laan te kyk toe hulle ‘n skaduwee verby die glasdeur sien beweeg het en ‘n man in rooi geklee by hulle voordeur sien inkom het.
“Ek weet nie hoe ek dit reggekry het nie, maar toe ek die man sien is ek van my stoel af, verby my man en reguit badkamer toe waar ek myself van binne af toegesluit het,” sê Jackie.
“Terwyl ek daar binne was, kon ek hoor hoe my man vir die aanvallers sê dat hulle hom nie moet seermaak nie – my hele liggaam het van angs gebewe.”
René sê hulle het hom tot op die bed gestamp en herhaaldelik met die agterkant van hulle vuurwapen geslaan.
“Hulle wou by my weet waar my vuurwapens is en elke keer as ek verduidelik dat ek nie een het nie, is ek geslaan. Ek het regtig gedink hulle gaan my doodmaak.”
Later het dit stil geword en toe sê hy aan sy vrou, “Liefie, maak die deur oop asseblief, ek bloei!”
Jackie sê sy het eers gehuiwer, want sy het nie geweet of dit ‘n lokval is sodat die aanvallers haar kan oorrompel nie, maar sy het toe gesien dat die aanvallers wel weg is.
René moes toe verskeie steke in die sowat 12 wonde aan sy kop gekry.

“Dit is die eerste keer sedert ons twee jaar gelede hier ingetrek het dat ons aangeval word. Die kothuis by die ingang is vroeër vanjaar beroof,” sê René.
“Dié gebeure het my oë laat oopgaan en ek gaan nou seker maak dat alles altyd gesluit bly.”
Die egpaar sê vier selfone en verskeie stukke juweliersware is tydens die aanval gebuit.
Hy sê dit lyk vir hom of die aanvallers net agter vuurwapens aan is, want hulle het nie belanggestel in hulle bakkie of elektriese ware nie.
