Beweerde boerboelaanval veroorsaak twis
Onbeantwoorde vra oor beweerde aanval deur 'n hond veroorsaak twis.
Vat asseblief ons hond, die bure meen hy is wreed en val kinders aan,” lui ‘n nota wat saam met ‘n eenjaaroue boerboel by die ingang van die Krugersdorp DBV afgelaai is.
“Ek het gevoel dat dit my enigste uitweg was,” het die voormalige eienaar van die hond, Petra Bunyan aan die NUUS gesê nadat daar beweer is dat haar hond ‘n tweejarige kind aangeval het.
Die kind, haar bure se seun moes ‘n noodoperasie ondergaan nadat hy Saterdag 24 September by die Bunyans se huis beseer is.
Bunyan vertel dat sy en haar buurvrou laat die middag in die sitkamer gesit het terwyl hulle kinders buite gespeel het.
“Ons het skielik ‘n kind hoor huil en het buite toe gehardloop waar ons die bure se seuntjie met bloed aan sy oor gekry het,” vertel sy.
John-Philip van Dalen wat volgende maand twee word, is volgens sy ouers nog besig om te leer praat en “kon nie verduidelik wat met hom gebeur het nie”.
Sy pa Jan van Dalen het met die NUUS gepraat en is daarvan oortuig dat die boerboel sy kind aangeval het.
“Dis ‘n aggressiewe hond, ‘n hond wat nie buite by die kinders toegelaat moes word nie,” sê hy.
Amper ‘n week later sit Van Dalen met ‘n mediese rekening en addisionel kostes van R24 000 omdat sy kind ‘n opvolgoperasie moet ondergaan.

“Ons wil net hê dat ons bure skuld erken en help om die mediese onkostes te dek,” sê hy.
Die Bunyan-gesin glo weer dat die kind seergekry het terwyl hy buite gespeel het, en dat hy nie deur hulle hond gebyt is nie.
“Daar is geen tandmerke of ander bewyse nie en daarom voel ons nie verplig om ons bure te vergoed nie,” sê Bunyan.
In ‘n onderhoud met onderskeidelik die Van Dalens en die Bunyans het die NUUS verneem dat albei partye regstappe oorweeg.
