Vermeende huisrower gou in sy spore gestuit
Vermeende huisrower word in Robert Broomrylaan in Rant-en-Dal opgemerk, maar sy poging om te vlug was onsuksesvol.

Skaars twee dae nadat EPR-sekuriteit hulle tiende reaksievoertuig in Krugersdorp en as ‘n areavoertuig vir Rant-en-Dal in gebruik geneem het, is ‘n verdagte gister 2 Oktober met die samewerking van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangekeer.
Johan Krogh, die algemene bestuurder van EPR-sekuriteit sê dat hulle omstreeks 12.29nm ‘n panieksein van ‘n kliënt in Leeustraat ontvang het.
“Drie minute later was ‘n EPR-reaksieoffisier by die perseel. Hy is deur die kliënt in kennis gestel dat die huishulp van ‘n buurman, wat nie ‘n kliënt is nie, oorval is nadat die verdagte ‘n venster gebreek het om toegang tot die huis te verkry.”
Krogh sê die huishulp is toe met ‘n vuurwapen aangehou en baie erg deur die verdagte aangerand.
“Nadat ‘n beskrywing van die verdagte se kleredrag vir al die EPR-reaksievoertuie in die omgewing deurgegee is, het reaksieoffisier Riaan van der Schyff die verdagte in Robert Broomrylaan opmerk.
“Hy het hom in sy motor begin jaag en hom selfs later te voet agterna gesit. Die SAPD het hulle opgemerk en het die verdagte vasgekeer en in hegtenis geneem.”
Volgens Krogh is twee vuurwapens en vyf Krugerrande in sy besit gevind.
Konstabel Tshepiso Mashale, ‘n polisiewoordvoerder bevestig die voorval en sê sy sal later meer inligting oor dié saak gee, soos die aard van die klagte teen die verdagte en wanneer hy in die hof sal verskyn.
