Raaiselagtige dood – man in motor aangetref
Die vrae maal elke dag deur sy verloofde se kop.

Amper twee maande nadat haar verloofde op 24 Augustus op die agtersitplek van sy motor aangetref is, sukkel Susan Olivier (41) steeds om berusting te vind.
“Daar is net soveel onbeantwoorde vrae,” sê sy met trane in haar oë as sy praat oor die oggend toe sy die oproep van ‘n familielid ontvang het.
Die oproep was kort en saaklik en sy is ingelig dat Christo van Staden (44), die man aan wie sy amper drie jaar lank verloof was, dood op die agtersitplek van sy rooi Opel Astra aangetref is.
“Hy het dan net ure tevore saam met sy broer gekuier,” vertel sy.
Met beperkte inligting en ‘n polisieverklaring wat dit stel dat die oorsaak van sy dood ondersoek sal word, het Olivier self die stukke van die legkaart bymekaar te probeer sit.
Haar eerste stap was om die toneel te fynkam waar Van Staden se motor in ‘n systraatjie in Paardekraalweg in Krugersdorp gevind is.
Sy selfoon, ‘n Samsung S3, was nêrens te vind nie, en sy beursie was leeg ten spyte van ‘n strokie wat aangedui het dat hy eenuur die oggend, drie ure voor sy dood, geld by ‘n OTM daar naby getrek het.
Sy het haarself afgevra of sy in die middel van ‘n misdaadtoneel was, en of haar verloofde dalk ure tevore die slagoffer van ‘n mislukte rooftog of kaping was.
Is haar grootste vrees bewaarheid? Is die pa van haar amper tweejarige dogter vermoor?
“Mens hoor gereeld dat noodpersoneel geld of selfone op ‘n toneel steel; kon dit die geval wees?” vra sy retories.
Sy moes aan haar baba van een jaar en 10 maande, en Van Staden se twee kinders uit ‘n vorige huwelik Bonita (22) en Christopher van Staden (19) verduidelik wat met hul pa gebeur het, maar het self geen antwoorde gehad nie.
Na baie mislukte pogings om self vas te stel presies wat daardie nag met Van Staden gebeur het, het Olivier haar hoop op die polisiediens gevestig.
Op 9 September is Olivier egter ingelig dat die saak gesluit is omdat met die ondersoek bevind is dat Van Staden aan natuurlike oorsake beswyk het.
Olivier en die Van Staden-gesin doen ‘n beroep op enige getuies wat dalk lig op die gebeure kan werp, om Susan Olivier by 084 909 2535 te skakel.

