Bokke buig knie voor die All Blacks
Al kon die Springbokke nie daarin slaag om die All Blacks pakslae te gee nie, het ondersteuners hulle by Silverstar se Absa Boktown geniet.
Dit was ‘n tandknersende wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op 5 Oktober toe dié twee aardsvyande mekaar op Ellis Park in Johannesburg gepak het.
Al kon die Springbokke nie daarin slaag om die sege van die 1995 Rugby Wêreldbeker-eindstryd wat ook by dié stadion gespeel is, herhaal nie, het ondersteuners wat by Silverstar Casino se Absa Boktown na al die aksie op die grootskerm gekyk het, nie sonder ‘n glimlag uitgestap na al die vermaak wat vir hulle aangebied is nie.
Dit was natuurlik ‘n treuroomblik toe die eindfluitjie blaas en die Springbokke met 27 teenoor 38 die knie voor die All Blacks in die Castle Lager Rugbykampioenskap se eindstryd moes buig.
‘n All Blacks-ondersteuner het dit in die Bok-ondersteuners se kamp gewaag en hulle uitgetart tydens ‘n kompetisie om te sien wie die beste ondersteuner is.
Maar jammer vir hom, in hierdie kompetisie het die Bok-ondersteuners vir hom ore aangesit en met die prys weggestap, alhoewel hy ‘n troosprys – ‘n Springbok-serp – ontvang het.
‘n Paar interessante feite oor wedstryde tussen die Springbokke en die All Blacks:
• Hierdie was die 86ste toets tussen die twee spanne, waarvan die All Blacks 50 toetse gewen (hulle is die eerste span wat dit kon regkry) het, die Springbokke 34 toetse gewen het wen drie gelykop geëindig het.
• Die laaste keer dat die All Blacks die Springbokke op Ellis Park geklop het, was in 1997 met 35 teenoor 32. Hulle het ook in 1992 en 1928 gewen.
• Uit die 14 geleenthede waartydens die All Blacks met die Springbokke op Ellis Park kragte gemeet het, het hulle agt verloor.
• Die wedstryd was die eerste toets tussen die twee spanne op Ellis Park in nege jaar. Die laaste toetswedstryd is in 2004 gespeel.
• Die grootste nederlaag vir die Springbokke teen die All Blacks was in 2003 op Loftus Versveld in Pretoria toe die All Blacks die Springbokke met 52 teenoor 16 oorrompel het.

