Ses honde is vroeg Donderdagoggend 17 Oktober vergiftig toe boosdoeners glo gewapen met Two Step (‘n bekende gifstof) op Stumkestraat toegesak het.
Halfses die oggend was die derde keer in ‘n kort tydperk dat die Isaura-gesin die trauma moes beleef om hul drie magtelose diere-kinders te probeer red.
“Ek kan dit werklik nie meer hanteer nie. Mens raak net geheg aan jou troeteldiere dan maak iemand inbreuk op jou privaatheid, kom by jou erf in, en vermoor dit waarvoor jy lief is,” vertel inwoner Esora Isaura.
Sy vertel hoe haar seun omstreeks 6.20vm uitgestap het om hul honde te voer, toe sy ‘n gil hoor.
“Mammie ons honde is vergiftig.”

Sy het uitgestap en haar moed het in haar skoene gesak toe sy die braaksel sien.
“Ek het dadelik besef dis Two Step.”
Haar een hond, ‘n Alsation, het op pad na die DBV gevrek en ‘n oproep het die gesin ingelig dat hul Jack Russel-kruising dit ook nie gemaak het nie.
Hul derde hond het ten tye van die onderhoud met die NUUS om sy lewe geveg.
Net oorkant die straat het hulle bure intussen tevergeefs probeer om hul twee worshond-en-Jack Russel-kruisings aan die lewe te hou.
Met die NUUS se besoek aan hulle huis daardie oggend moes Ruben du Plessis sy honde in komberse toedraai sodat hulle ook begrawe kon word.
“Ons het elke raat in die boek probeer, maar ons was te laat,” vertel hy.
Die eienaars van ‘n pitbulterriër twee huise verder was van die gelukkiges nadat hul hond betyds behandel is en oorleef het.
Die NUUS het sy lesers voorheen gewaarsku dat hondevergiftigings gedurende Oktober, November en Desember toeneem en doen weer ‘n beroep op almal om paraat te wees.
Kenners beveel aan dat eienaars hul honde in die motorhuis of op ‘n plek op die erf toemaak waar boosdoeners hul nie kan bykom nie en word aangeraai om dadelik ondersoek in te stel as hul honde blaf.
