Lombard Bande dink groen
Vyftien bome is aan Laerskool Protearif geskenk as deel van hulle 30 Dae van Groen-veldtog.
Lombard Bande het onlangs 15 inheemse bome aan Laerskool Protearif geskenk as deel van hulle 30 Dae van Groen-veldtog.
Dit volg op hulle 30 Dae van Omgee- en 30 Dae van Veiligheid-veldtog wat deel vorm van hulle 30ste verjaarsdagvieringe om iets terug te gee om hulle dankbaarheid te toon teenoor die gemeenskap wat hulle so getrou ondersteun.
Yolandi Heyns, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Lombard Bande sê daar is besluit om bome te plant omdat dit ‘n baie lang leeftyd het en die omgewing sal verbeter.
“Dit verskaf ‘n woning aan voëls en gee vir ons skoon lug om in te asem.”
Drie Graad 5-leerlinge, Dean Willemse, JP Wentzel en Ruan Delport het besluit om hulle vingers groen te hou toe hulle saam met hulle onderwysers en adjunkhoof gehelp het om die bome te plant.
Alhoewel dit taamlik moeilik was om die gate in die droë grond te grawe, moes die blare nuwe lewe gekry het toe die reën onlangs oor Krugersdorp uitgesak het.
Yolandi sê hulle beplan ook ‘n skoonmaakprojek waartydens al hulle takke gaan help om rommel op te tel, en later in die maand gaan hulle potplante aan ‘n ouetehuis skenk.
