Mandela was deel van ons
Ek was maar vyf jaar oud toe alle Suid-Afrikaners van 18-jaar en ouer op 27 April 1994 vir die eerste keer die geleentheid gegun is om in 'n nasionale verkiesing te kon stem.
Dis die jaar 1994.
Mandela se verjaardag op 18 Julie is altyd met sulke groot ophef gevier en dit is glad nie vreemd dat só ‘n man se verjaardag ‘n verjaardagpartytjie vir talle ander geword het nie.
Vir baie Suid-Afrikaners is hierdie jaartal simbolies omdat dit die jaar is waarin Suid-Afrika ‘n land vir al sy inwoners geword het toe Nelson Mandela as die eerste demokratiese president verkies is, skryf Jacobus Myburgh.
Ek was maar vyf jaar oud toe alle Suid-Afrikaners van 18 jaar en ouer op 27 April 1994 vir die eerste keer die geleentheid gegun is om in ‘n nasionale verkiesing te kon stem – ‘n dag wat nou as Vryheidsdag bekendstaan.
Oor dié dag self kan ek nie veel onthou nie, maar wel hoe my ouers vir ure lank in ‘n ry moes staan om net ‘n kruisie oor ‘n vormpie te trek, dit in ‘n houer te gooi en dan met ‘n merk op hulle duim gespog het.
Al wat ek tóé by doemprofete moes aanhoor is dat ons generasie maar moet ligloop, want Suid-Afrika gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Hulle wás reg. Suid-Afrika was nooit weer dieselfde nie, maar dit was dalk nie soos hulle gedink het dit sou wees nie.
Toe Nelson Mandela op 10 Mei daardie jaar as president ingehuldig is, het hy tydens sy inhuldigingstoespraak gesê: “Nooit, nooit en nooit weer sal hierdie mooi land die verdrukking van een deur ‘n ander ervaar en ly onder die vernedering om die muishond van die wêreld te wees nie.”
Vryheid het wel vir baie mense ‘n beter lewe beteken.
Groot was die hartseer toe daar gedurende sy termyn as president aangekondig is dat Mandela se skoene deur Thabo Mbeki, toe die adjunkpresident van die Republiek van Suid-Afrika gevul sou word toe hy as die ANC se president verkies is omdat Mandela nie nog ‘n termyn in die amp wou bly nie.
Ek onthou ook hoe ek – toe twaalf jaar oud met heelwat meer kennis oor Mandela se geskiedenis – gesien het hoe die millennium met ‘n insetsel ingelui is waar Mandela regstreeks ‘n draai op Robbeneiland gemaak het en die sel waarin hy ‘n groot gedeelte van sy lewe as ‘n apartheidsaktivis spandeer het, besoek het.
Dit is ook die jaar waarin ‘n R5-stuk met Mandela agterop gedruk is. Van hierdie munte, sowel as die inhuldigingsmunt van 1994 en die munt wat vir sy 90ste verjaardag gedruk is, het ek gehou – nié omdat ek gehoop het dit sou eendag baie waardevol wees nie, maar omdat dit deel is van my geskiedenis.
Mandela se verjaardag op 18 Julie is altyd met sulke groot ophef gevier en dit is glad nie vreemd dat só ‘n man se verjaardag ‘n verjaardagpartytjie vir talle ander geword het nie.
Vir die afgelope aantal jare het dit algemeen geword dat mense en instansies 67 minute van hulle tyd daaraan wy om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak.
As ‘n joernalistieke student het ek dit nogal interessant gevind om Mandela se aanhalings vir my take vir Politieke Verslaggewing te gebruik.
In 2011 is ek gekies om ‘n tiendag-werkswinkel in die Oos-Kaap by te woon wat deur die Universiteit van Kaapstad gereël is. Dit het gehandel oor die natuurwetenskappe, met die klem op die vraag hoekom die Aarde die enigste planeet is waarop lewe nog gevind is.
Tydens hierdie werkswinkel het ons op uitstappies gegaan en so eerstehands ervaring opgedoen oor die Aarde en sy dinge.
Een van hierdie uitstappies was na die Universiteit van Fort Hare in Alice, die einste universiteit waar Mandela en ander bekendes en vernames soos Oliver Tambo, Govan Mbeki, Desmond Tutu en John Hlope hulle kennis opgebou het.
Om deur daardie hekke te kon ry en te weet dat hulle ook daar was, was ‘n wonderlike gevoel.
As ‘n ekstra bederfie is ons Hogsback toe, die plek wat glo die inspirasie vir JRR Tolkien se Lord of the Rings was en sowat drie uur se ry van Mandela se tuisdorp Qunu af is.
Die volgende oggend 18 Julie was vir my onvergeetlik. Aan die begin van ‘n uitstappie het ons eers langs die pad gestaan en vir Mandela op sy 93ste verjaardag gesing en ook in ‘n gebed gevra dat as dit die Here se wil is dat hy gespaar moet bly.
In daardie selfde jaar het ek my internskap by Die Burger Oos-Kaap begin en onthou hoe ons gereed moes wees as enigiets sou gebeur, want in 2011 het hy vir ‘n tyd lank in Qunu gewoon.
Min het ons geweet dat Mandela, of Madiba soos hy bekendstaan, nog vir twee jaar vir ons gespaar sou wees.
Die wêreld het begin asem ophou toe hy meer gereeld in die hospitaal was.
Al wat ek nou kan sê is: “Madiba, jy het jou deel vir jou geliefde land gedoen, mag jy nou sag rus”.
En in Mandela se eie woorde: “Ons dra hierdie dag op aan al ons helde en heldinne wat hulle lewens op soveel verskillende maniere opgeoffer het sodat ons vry kan wees.”
Madiba, vandag is dié einste woorde ook op jou van toepassing, omdat jy Suid-Afrikaners gewys het dat jy as ‘n individu ‘n groot verskil kan maak.
