Inbrekers in hulle spore gestuit
Drie inbrekers wat by Prestige Mews in Noordheuwel ingebreek het, is tot in Roodepoort agtervolg waar die bestuurder in hegtenis geneem is.
Die stene waarmee sekuriteitswagte van die Noordheuwel Sentrum in Robert Broomrylaan drie gewapende inbrekers op 11 Desember gegooi het, lê nog in die pad.
Hulle is ontbied toe David Diale, die blokman van die Fat Belly’s Slaghuis wat in die sentrum geleë is, deur die kombuisvenster gesien het hoe drie mans uit ‘n wit Tata-bakkie klim en die hek van die Prestige Mews-woonkompleks in Harrisonweg met ‘n koevoet oopbreek.
Hy het toe vir die eienaar van die slaghuis, Ronet Nortjé en haar ma Sonet wat ook daar werk, vertel wat hy sien.
“Ons het almal deur die kombuis en werkswinkel se vensters gekyk hoe hulle by die kompleks inbreek en met ‘n televisiestel uitkom. Ek het toe die sentrum se sekuriteitswagte laat weet dat daar moontlik ‘n inbraak aan die gebeur is,” sê Sonet.
Intussen het die eienaar van die eenheid waar daar ingebreek is, kopgekrap oor wie by sy hek kon wees omdat die tegnologie wat by die hek geinstalleer is, hom kontak as sy eenheid se nommer ingesleutel word.
“Omdat ek op daardie tydstip besig was, kon ek my foon nie betyds beantwoord nie en daarom het die inbrekers heel waarskynlik aangeneem dat niemand tuis is nie,” sê Henri Engelbrecht.
Vyftien minute (om 10.14vm) nadat sy foon gelui het om hom in kennis te stel dat iemand by sy kompleks se hek is, het die buurvrou, Beverley Hayes hom geskakel om te laat weet dat daar by sy eenheid ingebreek is.
“Ek het sy TV-stel gesien by die hek wat oopgebreek is en ook gesien dat sy voorhek op die gras lê, en toe geweet dat inbrekers daar binne moet wees.”
Terwyl hy op pad na sy huis toe was, het die gemeenskap die inbrekers agterna gesit. BM Baakanjana, ‘n openbare veiligheidsbeampte van Mogale City verkeer, het die inbrekers tot in Roodepoort se sakekern gevolg waar die bestuurder deur die polisie in hegtenis geneem is – die ander twee verdagtes het van die bakkie afgespring en gevlug.
“Ek was op die hoek van Voortrekker- en Shannonweg toe ek versoek is om te help. Ek het die verdagtes bly agtervolg waarna een van die verdagtes agter op die bakkie ‘n vuurwapen op my gerig het.”
Hy sê hy het toe sy afstand gehou soos hulle deur die verkeer in Ontdekkersweg in Roodepoort gevleg het tot die verdagtes by die Roodepoort Treinstasie voorgekeer is.
By die huis moes Engelbrecht eers hoor dat twee van die inbrekers by sy eenheid in is terwyl die bestuurder van die bakkie buite gewag het.
“Hulle het die voorhek met ‘n koevoet uit die muur gebreek, waarna hulle die deur oopgebreek het om toegang te kry,” sê Engelbrecht.
Die inbrekers was sowat tien minute lank doenig in die eenheid voordat hulle onderbreek is.
“Sover ek kan sien het die inbrekers met ‘n DStv-dekodeerder en my vrou se juwele gevlug.”
Hy kon nog nie met sekerheid sê wat alles gesteel is nie, want met die NUUS se aankoms het hy en sy vrou nog gewag dat die polisie vingerafdrukke moet kom neem.
Die kissies waarin die juwele was het nog langs die bed gelê en ‘n TV-stel het op die vloer gelê waar die inbrekers dit in hulle haas moes los.
“Ons het net die bed opgemaak wat hulle [die inbrekers] deurmekaar gemaak het toe hulle die dekens gebruik het om goedere in weg te steek.”
Die Engelbrecht-egpaar wil graag almal bedank wat gehelp het dat die inbrekers met so min van hulle goedere weggekom het.
“Ons is regtig beïndruk met die flink optrede van die gemeenskap – as dit nie vir hulle was nie sou daar heel moontlik meer goedere gesteel gewees het,” sê Engelbrecht.
Konstabel Tshepiso Mashale van die Krugersdorp Polisiestasie bevestig die voorval en dat ‘n verdagte in hegtenis geneem is.
