Om sestig jaar lank getroud en boonop gelukkig te wees is beslis rede om die geleentheid te vier.
Elsa en Chris Steenkamp (albei 81) van Noordheuwel was verras toe die NUUS hulle kontak om dié mylpaal met die res van Krugersdorp te deel, maar omdat dit reeds deel van ‘n verrassing is, wou die verslaggewer nie die aap uit die mou laat nie.
Die egpaar ken mekaar in der waarheid langer as 60 jaar en Elsa verduidelik gou hoekom.
“Ek het my oë in Standerd 3 (Graad 5) vir die eerste keer op hom gesit toe ons leerlinge in Laerskool Krugersdorp-Noord was – ek het gedink dat hy cute is.”
Sy noem dat dinge by Hoërskool Monument egter begin vlamvat het.
“Daar het ons in Standerd 8 (Graad 10) gekys geraak en is sedertdien steeds saam.”
Die Steenkamps het op 20-jarige ouderdom verloof geraak en het die volgende jaar op 12 Desember 1953 die knoop in die Nederduitse Gereformeerde Kerk Krugersdorp-Noord deurgehaak.
Sowat 300 gaste het dié spesiale dag saam met hulle by die banketsaal in Krugersdorp se middestad gevier.
Chris het vir 35 jaar lank by die destydse Krugersdorp Munisipaliteit gewerk waar hy as ‘n elektrisiën begin het en toe tot superintendent by die meter- en toetsafdeling gevorder het.
Elsa was jare lank ‘n sekretaresse by verskeie skole soos Hoërskool Monument, Monument Primary School en Hoërskool Die Adelaar in Roodepoort.
Die egpaar het drie kinders, waarvan die middelste dogter oorlede is. Die ander kinders woon onderskeidellik in Perth, Australië en Sedgefield in die Suid-Kaap.
Verder spog hulle met agt kleinkinders en sewe agterkleinkinders.
