Local newsNews

Kind oorleef nadat hy meegesleur is

'n Dertienjarige seun van Krugersdorp-Wes het in 'n kanaal beland nadat sy skooltas in die water geval het.

‘n Dertienjarige seun van Laerskool Ebenhaeser is veilig by die huis nadat hy groot paniek veroorsaak het toe hy gistermiddag 15 Januarie deur kanaalwater meegesleur is.

Die polisie, brandweer, gemeenskapspolisiëringsforum en die gemeenskap het blitsig bystand verleen nadat dit bekend geword het dat ‘n seun in die water beland het.

Volgens Kaptein Moray Slabbert van die Soek- en Reddingseenheid het die seun, wat nie sy naam bekend gemaak wil hê nie, saam met ‘n maat (13) van die skool af huis toe gestap toe sy skooltas in die sloot in Vorsterstraat, slegs meters van sy ouerhuis beland het.

Hy het omstreeks 2.30nm in die kanaal geklim – wat toe nog enkeldiepte was – om sy sak uit te haal. ‘n Massa water het toe in die kanaal afgekom nadat ‘n wolkbreuk oor die area uitgesak het. Die water het hom meegesleur.

Drie strate verder in Dekkerstraat kon hy daarin slaag om uit die sloot te klim.

Hy en sy vriend was duidelik geskok oor die gebeure toe die NUUS met hulle gesels het.

Intussen het omstanders by die brûe saamgedrom om te kyk of hulle nie die seun gewaar nie.

Quiwine Puchert (13) van Laerskool Millenium sê hy het net polisiesirenes hoor afgaan en besluit om te kyk wat aan die gebeur is.

Die kanaalwater het vinnig opgestoot ná 'n wolkbreuk oor die area uitgesak het.
Die kanaalwater het vinnig opgestoot ná ‘n wolkbreuk oor die area uitgesak het.

Polisielede het in die kanaal geklim nadat die water weer gesak het en van Vorsterstraat tot by Jonesstraat gestap, maar kon nie die seun opspoor nie. Intussen het die Soek- en Reddingspan by die Blougatdam naby Munsieville gewag om te kyk of hulle hom nie daar kan opspoor nie.

Brigadier Dalipkimar Baijnath, stasiekommissaris van die Krugersdorp Polisie sê hy is dankbaar dat die kind ongedeerd is.

Omstanders by die brug in Jonesstraat kyk of hulle die dertienjarige seun kan sien.
Omstanders by die brug in Jonesstraat kyk of hulle die dertienjarige seun kan sien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button