Reuse strukture op plaaslike paaie prikkel nuuskierigheid
Plaaslike maatskappy slaan reuse kontrak los.
Verkeerspolisie, bloulig- en swaarvoertuie wat deesdae op Krugersdorp se paaie gewaar word in die omgewing van swaarvoertuie wat tenks van meters hoog vervoer, het inwoners se nuuskierigheid geprikkel. Die NUUS het gaan ondersoek instel.
Die vier meter lange tenks wat sewe en ‘n half meter in deursnee is en ‘n hele pad in beslag neem word volgens Frans Klopper, die eienaar van Vessel Fab, deur dié maatskappy in Krugersdorp vervaardig en na platinummyne in Rustenburg vervoer.
Vir hierdie plaaslike staal- en metaalvervaardiger wat al vir 20 jaar bestaan, is die vervaardiging van hierdie stoorstrukture een van die grootste kontrakte wat hulle nog losgeslaan het.
Die projek wat vereis dat die maatskappy agt tenks in 24 seksies vervaardig en vervoer, is volgens Klopper ‘n reuse inspuiting vir die plaaslike ekonomie.
“Dit skep werk – ‘n totaal van 40 werkers word te alle tye benodig om die projek te voltooi,” verduidelik hy.
Vermaak vra Krugersdorp se padgebruikers se begrip indien hulle die abnormale vrag in Luipaardstraat of verder aan op die R24 verby die Krugersdorp Wildtuin teëkom aangesien dit hulle roete onderweg na Rustenburg is.
“Daar sal van motoriste verwag word om van alternatiewe roetes gebruik te maak,” sê hy.
Hy noem dat die swaarvoertuie tot Mei vanjaar op verskeie dae voor middagete die paaie gaan gebruik.
Verkeersligte langs Luipaardstraat sal ook tydelik verwyder en teruggeplaas word sodra die voeruie verby is.
Klopper bedank die plaaslike inwoners vir hul geduld en begrip.
