Dam en sy bewoners word afgeskeep
Daar is voëls wie se pote misvormd is en ander wat sonder pote moet klaarkom.
Avis Launspach, ‘n inwoner van die Moria Tehuis in Krugersdorp sê dit is hartseer om te sien hoe die pragtige Monument Dam vervalle geraak het.
“Ek kry trane in my oë as ek dit sien en dan terugdink oor hoe pragtig dié dam etlike jare gelede was,” vertel sy soos sy broodkrummels die lug in gooi wat deur die voël-bewoners opgepik word.
Avis, wat ‘n groot diereliefhebber is, sê sy is ‘n Krugersdorper in murg en been omdat sy hier gebore is en ook grootgeword het.
“Om die onderskeie voëls soos die kolganse, eende en ganse te sien wat al sukkelend loop omdat van hulle pote óf af is óf so misvormd is, maak my baie hartseer.”

Sy sê sy het dit eers begin opmerk toe sy sowat ‘n jaar gelede by die tehuis ingetrek het en daaglik vir hulle begin kos gee het.
“Daar is ‘n eend wat ek Floppy gedoop het, omdat ‘n mens duidelik kan sien hy loop moeilik.”
Avis is van mening dat die omgewing waarin hulle moet woon, ongeskik vir die voëls geword het weens al die rommel en vislyne wat by die dam agterbly.
“Mense sal byvoorbeeld drank langs die dam drink en dan die bottels stukkend gooi – kinders kan nie meer kaalvoet hier rondloop nie.
“Die hengelaars moet ook meer omgewingsbewus wees en die vislyne verwyder omdat dit in die voëls se pote verstrengel raak.”
Avis sê sy en ‘n vriendin het weke gelede gesien hoe ‘n eend vreeslik gebloei het omdat daar ‘n vishoek in die dier se bek was, maar hulle kon die dier nie vang om dit te verwyder nie.
“Ons is van kleins af geleer dat ons respek moet hê vir die natuur en die omgewing. Hoekom kan ander mense nie ook so voel nie?”
Sy verwys na verskeie asblikke wat orals geplaas is sodat mense hulle rommel daarin kan gooi.
“Mense het te lui geword. Dit is makliker om dit op die grond neer te gooi as om na die naaste asblik te loop of om dit saam met jou huis toe te neem en dit daar weg te gooi.”

As kind het Avis baie van haar vrye tyd by die dam deurgebring en onthou in watter goeie toestand dit tóé was.
“Daar was toe reeds kolganse, eende en ganse sowel as swane, en hulle kon op eilande in die dam broei, maar vandag is hierdie eilande en die swane skoonveld.”
Mense het ook daar aan verskeie prettige aktiwiteite deelgeneem soos om op trapbootjies te vaar of piekniek te hou.
“Oor naweke was hierdie dam vol plesiersoekers. Mense het tente opgeslaan of onder sambrele kom piekniek hou – dit was heerlike tye!”
Die NUUS het in die uitgawe van 14 Februarie ‘n artikel geplaas waarin berig is dat Key West Winkelsentrum sekere verantwoordelikhede oorgeneem het, soos om die gras kort te hou en om seker te maak dat dit oor die algemeen daar netjies is. Die dam en sy bewoners is egter steeds Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se verantwoordelikheid.
Avis sê dat grasperke op sommige plekke nie gesny word nie.
“Ek weet dit, want ek is elke dag hier. Die persone wat die gras moet sny, doen dit net op sekere plekke.”
Die stene van ‘n sypaadjie wat die winkelsentrumbestuur langs die dam laat aanbring het, is ook al weg.

Melissa Greyling, woordvoerder van Key West Winkelsentrum sê hulle het dadelik werk daarvan gemaak om die dam en die park skoon te maak nadat die NUUS hulle daaroor in kennis gestel het en foto’s deurgestuur het.
“Ons maak die areas gereeld skoon, maar sal nou meer oplettend wees om te verseker dat dit netjieser gehou word,” sê Greyling.
Verwante artikels:
• Key West: dam remains municipal property despite upgrades
