Gestremde kinders se lewensgehalte verbeter
Die sentrum het ‘n tekort aan drukkers, geskikte speelapparaat en opvoedkundige benodighede vir die kinders.
Die Rekopane Sentrum in Kagiso vir gestremde kinders bars uit hulle nate soos wat hulle groei.
Die sentrum is ‘n paar jaar gelede deur die bekende arbeidsterapeut, Snooky Kau gestig. Sy bedryf reeds vanaf 2008 ‘n soortgelyke sentrum in Primrose aan die Oos-Rand.
“Ek het agtergekom dat daar ‘n groot behoefte is in Kagiso vir ‘n sentrum vir gestremde kinders waar hulle behoorlik versorg kan word,” sê Snooky.
Sy het toe ‘n deel van die Uniting Church of Africa in Mmusongstraat, Kagiso se kantore gehuur en begin om kinders in te neem.
Die kinders word goed versorg deur opgeleide versorgers, ‘n professionele verpleegster en sosiale werker. Daar is tans 23 kinders in die sentrum en daar is plek vir 26.
Die sentrum het ‘n goed toegeruste kombuis waar versnaperinge en etes vir die kinders voorberei word. Snooky sê dat die sentrum kinders vanaf tweejarige ouderdom inneem. Alle tipes gestremdhede word hanteer en verskillende vlakke van terapie word toegepas.
“Dit is belangrik dat ouers hulle gestremde kinders goed laat versorg,” gaan Snooky voort.
“Die regte behandeling kan so ‘n kind se lewensgehalte baie verbeter. Ouers moet ook nie belangstelling in hulle kinders verloor nie, hulle het ouerlike sorg en liefde nodig.”
Die sentrum het ‘n tekort aan drukkers, geskikte speelapparaat en opvoedkundige benodighede vir die kinders.
DA raadslid De Waal Venter, in wie se wyk die sentrum is, het besluit om ‘n rekenaar te skenk sodat die sentrum hulle sake op ‘n meer professionele kan handteer. Die rekenaar is met groot vreugde ontvang en die personeel is heelwat beter in staat om hulle werk doeltreffend te doen.
Snooky doen ‘n beroep op die gemeenskap om te help met geskikte apparaat vir die sentrum.
Skakel haar gerus by 078 962 4310 of 072 088 9370. Mense kan ook vir raadslid De Waal Venter skakel by 083 382 1632.
Verwante artikel:
• Social cohesion shies away from racism
