VIDEO: Verfkwaste vertel unieke stories
Kunstenaar Dawid van Deventer vertel dat sy kunswerke deur lyne en vorms 'n storie vertel.
Met sy kwas, verf en kunskennis vertel Dawid van Deventer graag stories.
“Elke merk op my kunswerke – die lyne, vorms en eie styl – is ‘n tipe taal wat vir dié wat daarna kyk, ‘n storie vertel.”
Wanneer ‘n mens instap by die ArtARC-kunsgalery waarvan Dawid die eienaar is, is dit net kunswerke waar jy kyk. Baie daarvan is sy eie werke.
“Die kunsgalery is geskep om mense, oud en jonk, weer van kuns bewus te maak. Met kuns kan jy hulle van alledaagse dinge leer en wys dat die besluite wat jy vandag neem, op die een of ander manier gevolge kan hê.”
Ongelukkig moes hy die deure van dié kunsgalery verlede jaar tydelik sluit omdat dit finansieel nie lonend was om dit voltyds te bedryf nie.
“As mense wil kom kyk is hulle natuurlik baie welkom om ‘n afspraak te maak. Ek beplan om die galery binnekort weer oop te maak en vir mense meer bekostigbare kuns aan te bied.”
Dawid is ook opgewonde oor vyf nuwe kunswerke waarmee hy besig is en wat dalk by die Alice Art Gallery in Ruimsig uitgestal gaan word.
“Ek is tans besig met die afrondingswerk en gaan dit dan vir oorweging voorlê . Indien dit vir die kunsuitstalling in Augustus gebruik word, sal dit die eerste keer wees dat ek daar uitstal.”
Hy verduidelik dat hy ‘n heel nuwe styl probeer, dié van geabstraheerde realisme. Hiervoor het inspirasie uit een van sy vorige werke, ‘n skildery van wyle oud-President Nelson Mandela getiteld Final Journey gekry.
“Ek is baie opgewonde oor hierdie tegniek, want dit lyk of ek kodes gebruik om die prentjies te skep.”
Vir meer inligting oor Dawid en sy kunsgalery, kontak hom by 079 503 6476 of by 084 783 2288.
https://www.youtube.com/watch?v=72G2RXtMdf8&feature=youtu.be
