Hy skryf om stukkende harte heel te maak
Dié pastorale berader poog om met sy skryfwerk gebroke verhoudinge tussen pa's en seuns te herstel.
Sy passie is om mense gesond te maak, en alhoewel hy die titel van doktor voor sy naam kan skryf, doen hy dit sonder ‘n wit jas.
Hy is tans besig met sy tweede doktorsgraad nadat hy reeds ‘n graad in Teologie en ‘n honneursgraad verwerf het. Sedert dr Alwyn van Heerden sy eerste boek onlangs voltooi het, kan hy nou ook “skrywer” op sy CV aandui.
Die doel van sy boek getiteld Padkaart vir ‘n man se reis, vertel hierdie pastorale berader van Krugersdorp, is om gebroke verhoudings te herstel en aktiewe pa-wees te inspireer.
Die jaar en ‘n half se navorsing vir die boek was hoofsaaklik vir sy tesis, vertel Alwyn, maar hy wou die kennis wat hy in die proses opgedoen het met die wêreld deel om mense se lewensgehalte te verbeter.
Sy navorsing was hoofsaaklik gebaseer op die verhouding tussen pa en seun “in ‘n Afrikaanse konteks” en volgens Alwyn het hy die waarde van ‘n aktiewe, geestelik gesonde pa in ‘n kind se lewe in diepte ontdek.
“Die boek vang in die meer as 200 bladsye die kruks vas van wat ontbreek in mans se verhouding met hul pa en andersom, die skade wat dit aanrig en dan ook hoe om dit reg te stel,” vertel hy.
Hy noem dat dit vir hom belangrik is om raad te gee oor hoe om geestelik ongesonde gedrag en denkpatrone reg te stel en sodoende hoop te skep.
“Daar is soveel boeke wat net vir lesers vertel waar hulle tekorte lê, maar my boek is juis in twee dele verdeel met riglyne in die tweede gedeelte oor hoe om dinge reg te stel,” sê hy.
In sy samevatting van die boek verduidelik Alwyn dat mans in die reis van die lewe baie omstandighede beleef wat hul manwees uitdaag en op die proef stel.
Hy sê dat ‘n liefdevolle en sterk pa wat ten nouste by sy kinders se lewens betrokke is, steun en middele kan bied om die reis makliker te maak en dat dit juis is wat hy met sy boek wil aanmoedig.
Padkaart vir ‘n man se reis sal vroeg volgende jaar op die rakke wees.
