VIDEO: Louw se vuurwarm talent
Louw Venter is deesdae in die Afrikaanse drama 'Swartwater' te sien en sê dat dit hier in Krugersdorp is waar hy sy liefde vir stories gekry het.
Sy voorliefde is nie net om voor die kamera te wees nie; soms hou hy daarvan om ook agter die kamera in te skuif.
Louw Venter, wat deesdae in Kaapstad woon het onlangs by sy ouerhuis in Noordheuwel tuisgegaan toe hy aan ‘n kortfilm, wat in Johannesburg verfilm is, gewerk het.
Dié akteur wat deesdae te sien is in die Afrikaanse drama Swartwater op SABC2 en ook van vandag af in rolprentteaters in die romantiese komedie Konfetti te sien is, verduidelik dat dit hier in Bloubergstraat is waar sy liefde vir stories stadig begin koerskry het.

“Ek was agt jaar oud toe ek ‘n liefde vir fotografie ontdek het – ek het daarvan gehou om interessante dinge vas te vang wat stories vertel.”
Dit het egter nie by fotografie geëindig nie. Louw het later saam met sy ma Erla na rolprente op die kassie gekyk en dit daarna ontleed.
“Ek en my ma doen dit vandag nog!” verduidelik hy gou. Hy sê dat hy so ‘n liefde vir rolprente ontwikkel het.
Toe die news hom gevra het of hy ooit gedink het dat hy eendag self op die televisieskerms sou verskyn, het hy laggend “Nooit!” gesê.
“Ek het nog altyd gehou van stories vertel en om by verskeie aspekte van storievertel betrokke te raak, soos om illustrasies te skep, as produksie-assistent te werk en ‘n stemkunstenaar vir radio-advertensies te wees. Ek was selfs ‘n nar in die strate van Johannesburg om mense te vermaak, maar om akteur te wees het nooit by my opgekom nie.”
In 1998 het hy in sy eerste fliek Adrenaline verskyn en daar het sy pad nie net die rolprentbedryf gekruis nie, maar ook dié van die komediant Rob van Vuuren saam met wie hy meer as 200 aflewerings vir The Most Amazing Show geskryf het wat van ‘n verhoogproduksie in ‘n televisiereeks omskep is.
Hy en Rob was die bekende karakters Corné en Twakkie, en Louw spog dat hulle so geliefd onder Suid-Afrikaanse gehore was dat daar selfs speelgoedpoppe van hulle karakters gemaak is.
“Ek het nog twee stelle hiervan,” lag hy.
Sy pa De Waal is ‘n talentvolle skrywer en digter, en Louw sê hy reken dit is waar hy sy talent vir skryf gekry het.
Die rolprent Konfetti is een van die produkte uit sy pen. Dit handel oor die troue van ‘n Afrikaanse man (Nico Panagio) en sy Joodse bruid (Sherryl Lieberman) wat skielik in ‘n ramp ontaard sodra Lukas (gespeel deur Louw) in sy dronkenskap vergeet het om die orkes vir die onthaal te bespreek en toe in sy onkunde ‘n vrouesanger (Kim Engelbrecht) huur wat glad nie in die bruid se goeie boekies is nie.
“Ek hoop om goeie terugvoering van die publiek oor dié rolprent te kry, want ek wou regtig iets anders probeer. Ek maak nie ‘n fliek omdat ek geld wil maak nie,” sê hy. “Ek maak flieks omdat ek wil hê mense moet daarna kyk en dit geniet. Dit moet iets wees waarna ek na die tyd kan kyk en kan sê dat ek ook daarna sou wou kyk.”
Hy sê dat daar aan nog ‘n rolprent Alles wat mal is geskuur en geskaaf word, en dit sal ook later vanjaar op die silwerdoek verskyn.
“Dit gaan oor ‘n huisvrou (gespeel deur Erica Wessels) wie se gewete en alter ego by haar begin spook. Dit dwing haar om haar lewe te verander.”
Louw sê dit is vir hom ‘n onbeskryflike gevoel om te weet dat mense van Krugersdorp, sy tuisdorp, moeite doen om na sy rolprente in die rolprentteaters gaan kyk.
