Bejaardes geëer by bederf-geleentheid
Die Krugersdorp Lions-klub het ‘n konsert vir amper 200 bejaardes gehou om hulle spesiaal te laat voel.
Dit was ‘n geleentheid om die bejaardes te bederf en spesiaal te laat voel.
So vertel Gerrie Schoeman, ‘n lid van die Krugersdorp Lions-klub wie se droom dit is om die bejaardes van Krugersdorp bymekaar te kry en hulle dan met allerlei lekkernye en vermaak te bederf.
Die kerksaal van die Gereformeerde Kerk in Krugersdorp-Noord was tjok en blok toe 168 bejaardes van ouetehuise soos Moria, Môreglans, Golden Age Village en van woonstelle soos Pionier, Jack Cotton, President, Van Riebeeck en Moths hulle by die versierde tafels tuisgemaak het.

Dit is die tweede keer dat hierdie konsert gehou is en net soos met die een van verlede jaar het die bejaardes dit baie geniet.
Gerrie sê dat 16 lede van die Lions-klub by die konsert gehelp het en het selfs gereël dat Saamstaan Busse, wat ook vervoer verskaf aan Pro-Practicum se leerlinge, die bejaardes vervoer.
Die lekker vingerhappies is deur West Village Tuisgebak verskaf.
Tussen die optredes van verskeie kunstenaars is daar ook pryse weggegee.
Die kunstenaars soos die kitaarspeler en sanger JustAdamm, dansers Kayla, Kristen Ewart, Taylor-Lee en Madison Versfeld, sowel as die sanger Louw het vir al die vermaak gesorg. Sommige bejaardes het selfs ‘n paar danspassies uitgevoer.

Gerrie sê dit was vir hom goed om te sien hoe die mense dit geniet en sê dat hierdie konsert hulle manier is om vir die bejaardes te wys dat hulle nie vergete is nie.
“Dit word gehou om aan die bejaardes erkenning te gee; om vir hulle dankie te sê dat hulle aan Suid-Afrika help bou het.”
