Armand droom reeds van Mnr SA titel
Armand Labuschagne van Little Falls in Roodepoort is reg vir al die uitdagings van die Mnr SA kompetisie.
Wanneer Armand Labuschagne (29), een van die finaliste in die Mnr Suid-Afrika kompetisie, nie self besig is om te oefen nie, is hy ‘n giminstrukteur by ‘n private gim in Roodepoort.
Met meer as tien jaar se ondervinding in dié industrie en spiere om dit te bewys, is ‘n verhouding met God nog altyd een van die belangrikste aspekte in sy lewe.
Armand is amper ‘n jaar lank betrokke by Jelly Beanz Inc, ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat emosionele bystand verleen aan kinders en gebroke families wat aan trauma en mishandeling blootgestel is.
“Die organiseerders van die kompetisie het dit duidelik gestel dat hulle nie op soek is na ‘n manlike model nie, maar ‘n manlike rolmodel.”
Rudi Baker, organiseerder en eienaar van die Mnr Suid-Afrika kompetisie beskryf die inisiatief as ‘n nuwe en vars standaard vir die land se vermaaklikheidsbedryf.
“My visie vir ‘n Mnr Suid-Afrika is dat dit iemand moet wees wat eienskappe het wat hom van ander mans onderskei. Voorkoms en ‘n gesonde liggaamsbou is baie belangrik, maar net so is ‘n persoon se karaktereienskappe. Die wenner moet ook ‘n ware ambassadeur vir oud en jonk wees,” sê hy.
Om Armand te help om sy droom as die volgende Mnr Suid-Afrika waar te maak, stuur ‘n sms met die woorde MRSA 009 na 47439. Sms’e kos R3 elk.
