Lombard Bande vertroetel vierpotiges
Sowat 100 komberse is aan die Krugersdorp Dierebeskermingsvereniging geskenk vir die winter.
Die vierpotige vriende van die Krugersdorp Dierebeskermingsvereniging (DBV) se sterte het vrolik gewaai toe hulle onlangs bederf is.
‘n Personeellede van Lombard Bande het ‘n middag van hulle tyd afgestaan om dié honde met drukkies, stappies en lekkernye te bederf as deel van hulle 90 Dae van Omgee-projek.

‘n Aantal leibande en sowat 100 komberse is aan die DBV geskenk om seker te maak dat hulle hierdie winter warm en snoesig in hulle hokke sal wees totdat iemand hulle aanneem en huis toe vat.
Om die hartseer, tog opgewonde, gesigte van die honde te sien was vir Celeste Watt ‘n emosionele oomblik, maar die honde waarmee sy in aanraking gekom het, het die trane gou met hondesoene afgelek.

Van die honde was heel gretig om uit hulle hokke te kom, terwyl ander ‘n bietjie meer senuagtig was en agter in hulle hokke gaan wegkruip het.
Met ‘n bietjie moeite en vriendelikheid om dié honde te oorreed dat hulle nie bang hoef te wees nie, was hulle nes die ander honde in die diereskut gewillig om vertroetel te word.
Vir meer inligting oor die diere en die aannemingsproses kan die DBV by 011 953 1135 gekontak word.
