Local newsNews

Pasop vir dié bedrieër

'n Inwoner het gedink hulle help 'n man kos op sy tafel te sit, toe verdwyn hy met hulle geld.

Alta de Bruyn, ‘n inwoner van Shaftstraat in Wentworthpark wil graag die gemeenskap waarsku om nie in dieselfde strik as sy te trap nie.

“Ek het gedink ek help iemand om kos op sy tafel te kry toe hy aanbied om vir ons ‘n los werkie te doen, maar toe los hy ons met al die werk.”

‘n Man het gedurende die Paasnaweek kom aanbied om die lapa se grasdak teen ‘n goeie prys oor te doen. Sy sê die grasdak was al sowat 20 jaar oud en dit was dalk tyd vir opknappingswerk.

“Die man het op 20 April al die gras van die lapa verwyder en toe R1 500 gevra sodat hy nuwe gras kon koop wat hy dan die volgende dag sou kom opsit, maar hy het nooit teruggekom nie.”

De Bruyn sê sy was woedend toe sy besef het dat sy en haar man ‘n bloutjie geloop het.

“Die hele erf was vol gras! Dit het ons die hele dag geneem om die gras te verwyder. Dit het ons nóg R1 000 gekos om dit te laat wegry.”

Al die meubels wat in die lapa was, word vir eers op ‘n veilige plek gestoor.

“Ons dink nou daaraan om eerder ‘n sinkdak op te sit.”

Sy sê sy kan nie glo dat iemand hulle so kon inloop nie.

“Ons wil mense waarsku teen hierdie en ander slenters. As hulle eers begin geld vra om die werk te kan doen moet die gevaarligte al begin flikker.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button