Local newsNews

Katte verdwyn spoorloos

Kateienaars van Monument het slapelose nagte.

Is troetelkatte in die Monument-area besig om op ‘n streep te verdwyn?

Lulu Membrey van Nicholas Smitlaan het die news gekontak nadat haar kat en glo ook verskeie ander katte oor ‘n tydperk in dié woonbuurt weggeraak het.

Haar kat, ‘n witpels mannetjie met die naam Duke wat vroeër vanjaar in die news was toe hy met ‘n windbuks geskiet is en dit oorleef het, is reeds meer as vier weke skoonveld.

Duke nadat hy vroeër vanjaar met 'n windbuks geskiet is.
Duke nadat hy vroeër vanjaar met ‘n windbuks geskiet is.

Sy en haar man Larry, wat vir Duke as een van hul dierekinders beskryf, is al siek van bekommernis omdat hulle nie weet waar hy is nie.

“Ons laat hom en sy sussie Lana elke oggend omstreeks 4vm uit sodat hulle ‘n draai kan loop, maar op 24 April het Duke net nie teruggekeer nie.

“As ons net meer inligting het oor wat van hom geword het, sal dit beter gaan maar om die heeltyd te wonder waar hy is en of hy goed versorg word, is nie lekker nie.”

Sy sê drie dae na Duke se verdwyning het sy plakkate in die woonbuurt begin opsit.

“Hy is gesteriliseer so hy sal nie agter wyfies wat op hitte is aanloop nie,” sê Lulu.

“In die proses word Lana vet gevoer, want ek dink ek kan haar met kos troos. Sy loop en miaau in die huis en mis haar boetie vreeslik.”

Anna du Plessis wat in die omgewing bly se grys, wit en gemmerkleur kat Traantjies het ook in dieselfde week as die Membrey’s se kat verdwyn.

“Sy was daardie middag nog by my in die huis en dit het gelyk of sy besig was om verkoue te kry. Sy het toe vir ‘n stappie gegaan en ek het haar nog nie weer gesien nie.”

Anna sê ‘n inwoner in Martinusstraat se kat Pantoffels is ook intussen weg.

“Katte word soos ‘n mens se kinders en ek wonder ook waar sy kan wees.”

Lulu sê hulle het reeds by die DBV en Fora gekyk of Duke daar is, maar sonder sukses.

Die news het in April verlede jaar berig oor ‘n afgeslagte kat wat in ‘n swartwattelboom in die veld oorkant Martinusweg gevind is, en dat dié kat volgens ‘n veearts op ‘n professionele manier geslag is.

Die veearts het genoem dat ‘n honger mens enigiets sal eet wat as kos beskou kan word.

Intussen hoop Lulu dat hulle kat nie in die kospotte beland het nie en eerder by iemand anders kuier.

Enigiemand met meer inligting kan haar by 076 338 9560 kontak. ‘n Beloning word aangebied.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button