Baba met gesnyde kop glo piekfyn
Die baba makeer glo niks nie en daar is ook nie permanente skade nie.
Die baba wat glo deur ‘n dokter van Dr Yusuf Dadoo Hospitaal op sy kop gesny is tydens geboorte, is volgens die gesondheidsdepartement se woordvoerder piekfyn.
Simon Zwane sê die vyf-weke-oue Juan-Pierre Hess makeer niks nie en sy wonde is heel moontlik veroorsaak deur die vakuumpomp wat gebruik is tydens sy geboorte.
Die news het in verlede week se uitgawe (23 Mei) van Rika Roode en haar vriend Pieter Hess se baba verslag gelewer nadat Roode vertel het hoe ‘n onbekende dokter by die hospitaal haar pasgebore babaseuntjie se kop gesny het.

Roode verduidelik dat sy baie gesukkel het om geboorte te gee en dat die dokter besluit het om instrumente te gebruik.
Zwane sê dat die hospitaal prosedure gevolg het en volgens die verpleegpersoneel het die baba in die toppunt-posisie gelê en nie brug nie en dat Roode geweier het om natuurlik geboorte te skenk.
“Die vakuum prosedure is baie veilig,” sê Zwane.
“Die baba was dadelik na sy geboorte ondersoek en weer net voor hy ontslaan is. Daar was geen abnormaliteite nie; die baba was piekfyn. Die kneusplekke sal gesond word en geen permanente skade is gerig nie.”
Hy noem dat die hospitaal ‘n vergadering met Roode en Hess gaan reël om haar kommer te bespreek. Hulle sal ook verduidelik wat gebeur het en waarom die dokter daardie roete tydens die geboorte gevolg het. Roode sal ook berading ontvang indien sy dit nodig het.
Alhoewel Zwane die saak as afgehandel beskou, het talle lesers hul woede teenoor die hospitaal op die news se webtuiste en facebook-blad uitgespreek.
Chantel het geskryf, “Hoe de hel doen ‘n dokter so iets?” terwyl Sanet sê, “Hierdie hospitale sal bly lieg oor als wat hulle doen, ek is regtig jammer oor wat daardie satan dokter gedoen het, dagvaar die hospitaal, die dokter en die verpleegsters”.
Die news het ook angsoproepe en navrae van verwagtende vroue ontvang wat by Dr Yusuf Dadoo Hospitaal geboorte gaan skenk.
“Ek moet nou ‘n bed vir my daar bespreek vir ‘n keisersnee, wat moet ek doen? Ek vrees vir my baba,” het Heidi gevra.
Heidi het ook die lesers op die news se webtuiste om raad gevra en talle het gesê sy moet na ‘n ander hospitaal gaan.
