Witkruisarende kry besoek van die ooievaar
Die kuikens van die Witkruisarende by die Botaniese Tuin in Poortview het uitgebroei en alles dui op 'n suksesvolle broeiseisoen.
Daar heers opgewondenheid by die Walter Sisulu Botaniese Tuin nadat die twee Witkruisarendkuikens hulle opwagting gemaak het.
Die eerste toevoeging tot die geveerde inwoners van dié tuin, wie se tuiste bo by die Witpoortjie Waterval in Poortview geleë is, het gedurende die middag van 13 Junie sy donsvere reggeskud om die wêreld te bekyk.
Vier dae later op 17 Junie het Emoyeni en Thulani, die broeipaar, se tweede kuiken uit sy dop geklim, het die Roodekrans Witkruisarendprojek se woordvoerder bevestig.
Bo van der Lecq van dié projek sê die fotograaf Garth Heydenrych het opgemerk dat die eerste kuiken in die nes moes wees omdat Emoyeni se vere regop gestaan het en ook nadat Thulani kos na die nes gebring het.
“Dit was toe nog moeilik om dit te bevestig.”
Die volgende dag teen 4.15nm het Heydenrych bevestig dat daar ‘n kuiken is. Nog kos is na die nes geneem nadat die broeipaar reeds die vorige dag s’n verorber het.
“Op die oomblik dui alles op ‘n normale broeiseisoen,” sê Van der Lecq in ‘n eposboodskap.
Binne die volgende paar dae sal die sterker kuiken, gewoonlik die eerste kuiken, die enigste kuiken in die nes wees. In regte Kain en Abel-styl sal die sterker kuiken die swakker kuiken doodpik en daarna opvreet.
Die oorblywende kuiken bly tussen 84 tot 99 dae in die nes en is vir sowat ses maande van die broeipaar afhanklik.
Kliek hier om die hele proses op kamera te sien.
