Traumakamer kry ‘n nuwe baadjie
'n Gemeenskapsprojek maak 'n aaklige ervaring meer draaglik.
Met behulp van ‘n groep skenkers is ‘n traumakamer vir slagoffers van mishandeling by die Munsieville Polisiestasie onlangs opgeknap.
“Elke polisiestasie is volgens wet verplig om ‘n tydelike vesting vir slagoffers van mishandeling te bied maar weens ‘n gebrek aan hulpbronne is die kamers soms koud en onpersoonlik,” vertel Dalene Kruger, bestuurder by Cradle of Hope – ‘n huis waar mishandelde vroue en kinders se menswaardigheid herstel word.
Sy vertel dat personeel by The Cradle of Hope tydens ‘n besoek spesifiek by die Munsieville Polisiestasie bewus gemaak is van die beperkte fasiliteite in die traumakamer.
“Ons het daar en dan besluit dat ‘n mooimaaksessie ideaal sou wees,” sê Kruger.
“Die publiek het goed gereageer op ‘n beroep om by te dra en ons kon sommer vinnig beddens met nuwe linne oortrek en die kamer verf,” voeg sy by.
Kruger bedank Dewald Kruger van MTM behuising wat die verf verskaf het en vrywilliger Mara van der Walt vir die linne wat sy geskenk het.
Kruger vertel dat personeel by die Cradle die projek verder gaan voer deur nog traumakamers by ander polisiestasies in die Krugersdorp-area op te knap omdat die nood daar ook groot is.
In hierdie stadium van die projek is verwarmers, matte, Bybels in Engels en speelgoed op Cradle se lys van benodigdhede.
Om betrokke te raak of om skenkings te doen, kontak Dalene by 011 660 4623.
