Video: Kleedkamerkameras by skool verwyder
Petisievorms doen die rondte nadat 'n ouerpaar agtergekom het daar is kameras in die kleedkamers. Skool sê dit is gedoen om vandalisme te bekamp.
By Laerskool Ebenhaeser word leerlinge wat die kleedkamers wil gebruik ‘afgeloer’.
“Die kameras is meer as ‘n jaar gelede in die kleedkamers geïnstalleer om as afskrikmiddel te dien. Die beheerliggaam het dit goedgekeur” — Koos Lamprecht, Laerskool Ebenhaeser skoolhoof
‘n Ouerpaar van twee kinders in die skool het, het die news ontsteld hieroor gekontak en gesê dat hulle kinders nie meer die kleedkamers wil gebruik nie omdat daar kameras in die seuns en dogters se kleedkamers is.
Bewyse hiervan is in die vorm van video-opnames wat die ouers met hulle selfone geneem het.
Die betrokke ouers, wie se identiteit weerhou word om hulle minderjarige kinders teen viktimisering te beskerm, sê hulle het al verskeie vergaderings oor hulle griewe met die skool asook met lede van die Gautengse Onderwysdepartement gehad.

‘n Petisievorm oor die kameras in die kleedkamers doen die rondte sodat ouers dit kan teken.
“Ons gee nie om of dit fopkameras is soos die hoof sê nie. Ons wil dit nie in die kleedkamers hê nie en glo dit moet eerder buite geplaas word,” sê die ouerpaar.
“Niemand van ons wil die kinders verkeerd leer deur kameras in die kleedkamers te plaas nie.”
Die news het skoolhoof Koos Lamprecht oor die kameras gekontak en hy was meer as bereid om sy mening daaroor te lug.
“Die kameras is meer as ‘n jaar gelede in die kleedkamers geïnstalleer om as afskrikmiddel te dien. Die beheerliggaam het dit goedgekeur,” sê hy.
“Voordat die kameras in die kleedkamers geplaas is, is die geriewe gevandaliseer en bemors – dit was ‘n manier om die leerlinge sover te kry om nie die kleedkamers in ‘n vuil toestand agter te laat nie.”
Met ‘n besoek aan die kleedkamers, wat in ‘n goeie toestand is, sê Lamprecht dat die gesondheidsdepartement hulle vir die netjiese kleedkamers gekomplimenteer het.

Hannes Venter, die skool se faktotum wat onder andere vir die instandhouding van die kleedkamers verantwoordelik is, sê voor die kameras daar was moes hy omtrent weekliks dinge wat die leerlinge breek en vandaliseer vervang en verwyder.
“Om die heeltyd toiletsitplekke wat gebreek word te vervang of die kru-taal wat op die deure en mure geskryf is asook nat toiletpapier wat teen die plafonne gegooi is te verwyder het kosbare tyd geverg wat vir ander take gebruik kon word.”
Celesti Bancroft wat vir die skool se sekuriteitskameras verantwoordelik is, het aan die news gewys dat daar net nege kameras op die skoolterrein is.
In ‘n verdere poging om die ouers te oortuig dat die kameras nooit enige leerling in die kleedkamers afgeloer het nie, het Venter dit in die teenwoordigheid van die news verwyder, wat dit op video vasgelê het.
“Dit help nie ek los dit daar nie want almal weet nou dis nie regte kameras nie. Dit is nou nutteloos.”
https://www.youtube.com/watch?v=nMk-MfTDS18&feature=youtu.be
