Local newsNews

Afrikaanse sakelui vergader

Hulle vergader om idees uit te ruil, te gesels en mekaar te ondersteun om 'n mark vir volkseie te hou.

Afrikaanse sakelui van regoor die Wes-Rand vergader gereeld om idees uit te ruil, te gesels en mekaar finansieel te ondersteun.

Alwyn de Klerk van die Oranje Sakekamer se Wes-Rand Tak in Witpoortjie sê dié vergadering vind maandeliks plaas wat as ‘n katalisator dien om Afrikaanse sakemense te betrek.

“Die doel van die tak is om Afrikaanse sakelui te kry om hulle mede Afrikaanse volkslede se sakeondernemings te ondersteun. Daar is niemand wat vir ons eie mense gaan sorg behalwe onsself nie”

Tydens die sakekamervergaderings kry sakelui die geleentheid om te netwerk en hulle ondernemings aan mekaar bekend te stel sodat hulle eerder mekaar se dienste kan gebruik.

Daar is Oranje Sakekamers regoor die land wat gestig is om te voldoen aan die vereistes van die Oranje Sake Instituut se Grondwet en hulle Reglement wat as oorkoepelende struktuur gevestig is tot voordeel van die Afrikaner.

Met die onlangse vergadering het die Sakekamer hulle geldsake, projekte asook toekomsplanne bespreek.

De Klerk sê die Wes-Randse Tak, wat in 2009 gestig is, bestaan uit 44 lede.

“Ons volgende vergadering sal eers weer in Augustus plaasvind omdat baie van ons lede tydens die Julie-skoolvakansie met verlof gaan.”

‘n Oranje Beleggersklub is ook op die been gebring waar lede maandeliks geld inbetaal wat rente sal trek. Uit hierdie geld sal die Sakekamer dan beurse aan veral die lede se kinders kan toeken vir verdere tersiêre onderrig of selfs geld kan uitleen teen sowat 20 persent rente.

“Met hierdie droom beoog ons om binne die volgende vyf jaar ‘n miljoen rand in die beleggersklub se fonds te hê waarmee ons dan ‘n beleggerskoöperasie kan stig,” verduidelik De Klerk.

Hy sê met dié beleggingskeuses kan daar ook ‘n rampfonds gestig word waar lede wat byvoorbeeld beseer is, by hospitale of dokters die nodige mediese sorg sal kry.

“Ons besighede groei en daardeur sal dit vir ons moontlik wees om ons eie mense te help en ook vir hulle werk te skep sodat daar ook by hulle huise brood ingebring kan word.”

De Klerk sê enige sakelui wat by die sakekamer wil aansluit of net wil kom kyk waaroor dit alles gaan kan hom by 082 940 8825 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button