Editor's choiceLocal newsNews

Geliefde koivisse vergiftig

Kwaaddoeners het die Minie's se geliefde koivisse vergiftig en hulle gaan dit nie daar laat nie.

Vyftien geliefde koivisse is vermoedelik gisteraand (30 Junie) vergiftig en nog 10 veg vir hulle lewens in ‘n tydelike visdam.

Danie Minie, 69, van Pannallstraat in Mindalore se lippe het telkens gebewe toe hy oor sy visse, wat hy as sy kinders beskryf en derduisende rande kos, gepraat het.

Marie Wessels met van die koivisse wat vermoedelik vergiftig is. Die een wat sy vashou weeg sowat 18kg en was ongeveer 20 jaar oud en die oudste van al die visse.
Marie Wessels met van die koivisse wat vermoedelik vergiftig is. Die een wat sy vashou weeg sowat 18kg en was ongeveer 20 jaar oud en die oudste van al die visse.

“Ek is hartseer, maar het nie meer trane nie. Dit is soos om ‘n geliefde aan die dood af te staan.”

Hy sê hy wil mense wat ook koivisse het waarsku dat iemand besig is om hierdie diere sonder rede te vergiftig.

“Dit is die tweede vergiftiging in sowat ‘n maand. Die vorige keer is drie van my visse dood.”

Minie sê die kwaaddoeners moes oor sy hek geklim het en dit moet mense wees wat die honde ken, want gewoonlik sal die honde nie mense in die erf toelaat nie..

“Dit is al waar hulle kon inkom. Hulle het gekom om my liefde vir koivisse te smoor, want ek glo nie ek sal weer visse kry nie – ek het te lief geword vir hulle!”

Dit was vir Danie Minie hartseer om sy geliefde koivisse só te sien.
Dit was vir Danie Minie hartseer om sy geliefde koivisse só te sien.

Hy sê sy oudste vis van 20 jaar het sowat 18kg geweeg.

“Almal het my altyd oor sy grootte gekomplimenteer en kon nie glo dat ek die vis so groot in my 8 000 liter dam kon kry nie.”

Minie en sy vriendin Marie Wessels, albei pensioentrekkers, sê by die visdam kon hulle van die daaglikse lewe vergeet en kalmte vind.

Die vermoedelike gifkorrels wat Danie Minie in sy visdam gevind het en meer as 15 van sy koivisse se dood veroorsaak het.
Die vermoedelike gifkorrels wat Danie Minie in sy visdam gevind het en meer as 15 van sy koivisse se dood veroorsaak het.

“Vir ander mense sou dit net ‘n dam wees met visse in, maar vir ons was dit ‘n manier om rustig te word en met die visse te gesels – dit het ons kalmte gegee.

“Elkeen van ons visse het name en was soos kinders vir ons.”

Hy sê hulle is mense van geloof en vervloek daarom die kwaaddoeners in die naam van Jesus.

“Jy doen nie só iets aan iemand anders nie!”

Minie sê hulle gaan die visse iewers in ‘n veld begrawe en gaan ook nie ‘n saak by die polisie open nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button