Katte moontlik vergiftig
'n Inwoner van Gregorstraat in Mindalore waarsku mense in dié buurt dat katte in die omgewing vergiftig word.
Coreen Clark, ‘n inwoner van Gregorstraat in Mindalore wil mense wat katte as troeteldiere aanhou waarsku dat hierdie diere in die area vergiftig word.
In ‘n tydperk van ses maande het sy reeds sewe van haar nege katte verloor.
Sy verduidelik dat vier van haar katte ses maande lank vermis was. Een van die vier en haar oudste kat het toe siek by die huis aangekom.
“My oudste kat het nie lekker gelyk nie en het haar laaste oomblikke teen die motorhuismuur deurgebring. Dit is hoe ek kon vasstel dat my katte vergiftig is,” sê sy ontsteld.
In die jongste geval is nog drie van haar katte vergiftig, waaronder ‘n Siamese langhaarkat wat ‘n mikroskyfie het.
“Die katte, wat almal gesteriliseer is, het elke oggend en elke aand huis toe gekom wanneer hulle moes eet. Ek het agterdogtig geraak toe hulle nie vir ete opdaag nie.”
Sy sê die oorblywende katte word tans agter in die erf saam met die honde aangehou.
“Hulle is katte wat nie na vreemde mense toe sal gaan nie omdat hulle vir mense bang is.”
Clark doen ‘n beroep op die gemeenskap om die DBV by 011 953 1135 of haar by Fora by 072 413 5364 te kontak indien hulle enigiets gesien het of weet wie die katte moontlik vergiftig.
