Talita glo in gee eerder as ontvang
Dié Mev Suid-Afrika finalis van Krugersdorp het baie drome.
Vir Talita Jansen van Rensburg, ‘n Mev Suid-Afrika finalis sal die senuwees die res van die maand nog knaag.
Die finale rondte van die Mev Suid-Afrika kompetisie vind op 8 Augustus by Emperors Palace in Kempton Park plaas.
Oor haar reis in die kompetisie sê sy dat dit baie verrykend is.
“Die kompetisie het my soveel geleenthede gebied om te groei. Ek het ook baie meer oor myself geleer.”
Sy sê die kompetisie laat haar toe om mense te dien sodat sy hulle eendag sal kan lei.
“Hierdie reis het my met baie ander inspirerende mense in aanraking gebring – van ‘n enkelma en jong mense wat net aanvaarding soek tot vroue wat duisende Suid-Afrikaners inspireer. Ek stap vir seker as ‘n beter vrou weg ná hierdie reis.”
Jansen van Rensburg vertel dat daar nog ‘n paar dinge is wat sy deur die Mev Suid-Afrika kompetisie wil bereik.
“Ek glo ‘n mens moet kan dien voordat jy kan lei. Dit is daarom belangriker om te gee as om iets terug te ontvang. Voorts wil ek ook die boodskap oor selfaanvaarding uitdra.”
Sy sê sy sal ook daarvan hou om entrepreneurskap onder vroue in Suid-Afrika te bevorder.
“Daar is baie vroue wat met die regte leiding en hulpmiddels hulle eie sakeondernemings kan begin en ‘n sukses daarvan kan maak.”
Soortgelyke stories:
• Koppie liefde ten bate van liefdadigheid
