Editor's choiceLocal newsNews

Samaritane sorg vir beter omstandighede

'n Sekuriteitsmaatskappy en die gemeenskap het besluit om die lewe vir die Kroningspark-inwoners 'n bietjie gemakliker te maak.

Inwoners van Kroningspark glimlag nou nog breër nadat die gemeenskap en ‘n sekuriteitsmaatskappy van Muldersdrift hande gevat het om die mense se lewensgehalte te verbeter.

Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit en Bruce Sutherland, ‘n gemeenskapsleier het saam besluit op maniere om aan die sowat 300 inwoners van Kroningspark bystand te verleen.

Roberts sê die gemeenskap van die Wieg van die Mensdom-omgewing sowel as lede van Conserv Sekuriteit het op 16 Junie bymekaargekom en items soos klere, komberse en kos geskenk wat toe aan Kroningspark en die Cradle of Hope toevlugsoord vir mishandelde vroue en kinders geskenk is.

Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit verduidelik aan die Kroningspark-inwoners hoe die LED-sonkragligte werk.
Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit verduidelik aan die Kroningspark-inwoners hoe die LED-sonkragligte werk.

Toe die items by Kroningspark uitgedeel is, is nog twee projekte geïdentifiseer en op 19 Julie is dit gefinaliseer.

“Daar is besluit om tien vroue-inwoners in ‘n vlak 1-noodhulpkursus op te lei en volledig toegeruste mini-trauma noodhulp- asook gespesialiseerde Burn Eaz-tassies te skenk wat van tyd tot tyd aangevul sal word,” sê Roberts.

“Ons het ook die nood raakgesien dat die inwoners nie elektrisiteit het nie en dit maak dit dus vir baie van die mense moeilik om gewone huistakies na sononder te doen.”

Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit verduidelik aan die Kroningspark-inwoners hoe die LED-sonkragligte werk.
Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit verduidelik aan die Kroningspark-inwoners hoe die LED-sonkragligte werk.

Roberts sê skoolgaande kinders moet snags by kerslig of paraffienlampie leer en dit is nie ‘n doeltreffende vorm van beligting nie.

Hy verduidelik dat daar ook bejaardes is wat snags sukkel om in hulle wonings rond te beweeg.

“Daarom het ons besluit om 26 huishoudings uit te soek wat dringend LED-sonkragliggies benodig, want dit is nie net veilig nie, maar ook selfonderhoudend.”

Die ligte, sê hy, word deur sonenergie gelaai en is veilig. Sekere selfone sal ook met dié ligte gelaai kan word.

Rosalyn en Daniel Poulter is opgewonde om die nuwe LED-sonkragligte te toets. Heel regs is Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit.
Rosalyn en Daniel Poulter is opgewonde om die nuwe LED-sonkragligte te toets. Heel regs is Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit.

“Dit gaan beslis die lewe van die mense wat snags sonder elektrisiteit moes klaarkom verbeter – veral dié met skoolgaande kinders.”

Hugo van Niekerk, ‘n inwoner van Kroningspark sê hulle is baie dankbaar vir die mense wat na hulle uitreik.

“Wanneer mense na ons uitreik, wys dit daar is nog mense wat omgee en ons swaarkry raaksien. Voorheen moes baie mense met kerslig klaarkom. Daar sal nou minder brande in die kamp wees.”

Hy sê dit is wonderlik dat tien inwoners die noodhulpkursus kan bywoon.

Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit verduidelik aan die Kroningspark-inwoners hoe die LED-sonkragligte werk.
Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit verduidelik aan die Kroningspark-inwoners hoe die LED-sonkragligte werk.

“Nou sal daar mense in die kamp wees wat in noodsituasies kan help.”

Die organiseerders bedank almal wat gehelp het om ‘n verskil te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button