Karavaankampatleet oefen weer
Irene van Niekerk, 16, het, ten spyte van al die kritiek besluit om steeds haar drome te verwesenlik al het sy 'n baba.
Baba Jayden van Niekerk, wat eerskomende Maandag ses maande oud is, is versot op bad en eet.
Só vertel sy trotse ma Irene, 16, in inwoner van die Kroningspark-plakkerskamp wat as atleet internasionale bekendheid verwerf het.
Die media het verlede jaar wyd oor haar berig nadat dit bekend geword het dat sy, ten spyte van haar omstandighede en misvormde voete, die een gouemedalje na die ander losgehardloop het.

Saskok (Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee) se President, Gideon Sam het destyds gesê dat hulle haar met haar atletiekloopbaan sou help.
Verskeie borge het haar begin ondersteun, maar nadat dit bekend geword het dat sy vir Jayden verwag, het die borge glo hulle steun onttrek.
Haar ma, ook Irene, sê sy was eers woedend toe sy uitvind dat haar dogter swanger is en het ‘n wrok teenoor haar negende kleinseun in haar hart gedra.
“Ek het gevoel dit is sy skuld dat haar loopbaan aan skerwe is. Ek het hom daarvoor verwyt nog voordat hy gebore is.”
Maar toe sy hom die eerste keer vashou en sien hoe ‘n glimlag sy mondhoekies laat krul het hy ‘n baie spesiale plek in haar hart gekry.
“Ek het besef dat Irene se loopbaan nie verby is nie en dat sy met volharding steeds ‘n sukses van haar lewe kan maak – dit is al wat ek nog altyd vir haar wou hê.”
Irene vertel dat haar dogter reeds weer oefen, maar dat dit nog baie werk gaan neem voordat sy weer haar spoed sal terugkry.
“Sy gaan in Augustus en September aan die Suid-Afrikaanse Skolelandlooptoernooie deelneem en sy is baie opgewonde daaroor,” sê sy.
“My dogter het nie gaan lê nadat Jayden gebore is nie en is bereid om hard te werk om die sukses wat sy voorheen gehad het, te herhaal.”
Intussen wag Jayden gereeld saam met sy ouma langs die veld terwyl Irene se bene weer soos ‘n goed geoliede masjien deur die kamp hardloop.
“Ek hoop hy sal ook eendag in haar voetspore volg,” se Irene.
“Ons familie het nog altyd in sport uitgeblink. Ek self was ‘n atleet en kon vinnig hardloop, maar het nie die ondersteuning gehad om daarvan ‘n sukses te maak nie. Daarom doen ek als in my vermoë om dit vir my dogter moontlik te maak.”
Irene sê haar kleinseun is klaar woelig vir sy ouderdom en sy is seker hy sal ook nog suksesvol wees.
Sy sê sy pa, Ivan Cass sorg ook goed vir sy seun en besoek hom gereeld.
“Hy maak seker my dogter en sy seun het alles wat hulle nodig het – hy maak seker Jayden het genoeg doeke en klere.”
