Trotse wenner kry ‘n nuwe motor
Die trotse wenner wou eers nie na die trekking toe kom nie omdat sy gereken het sy staan nie 'n kans nie.
Met ‘n groot glimlag, bene wat bewe en ongeloof het Chanel Taylor van Roodepoort die sleutels van haar splinternuwe motor ontvang.
“Ek het dit nie verwag nie! Ek wou eintlik nie na die prystrekking toe kom nie, want ek wen nooit nie,” sê sy.
‘n Ford Figo Ambiente 1.4, geborg deur Action Ford Krugersdorp, was een van die pryse wat die Transvaal Tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging op die spel geplaas het.

Die fondsinsameling, onder leiding van takvoorsitter Ria Zeelie het gehelp dat ‘n skietbaan in die Krugersdorp-area gebou word. As alles goed verloop sal dit reeds aan die begin van volgende jaar gebruik kan word.
Taylor se wenkaartjie is tydens ‘n spesiale geleentheid by die Action Ford Krugersdorp-kantore onder die valkoë van die ouditeure tussen amper 8 000 ander kaartjies uit ‘n groot kartonhouer getrek.
Ongeveer 50 kaartjies vir ander pryse soos geweersakke, verkykers, teleskope en ‘n haelgeweer is voor die groot trekking getrek.
