Vrou sterf in ambulans na motorfietsongeluk
Die motorfietsryers het 'n ent van die wrak af gelê.
‘n Vrou is Sondagmiddag dood en ‘n man ernstig beseer na ‘n motorfietsongeluk op die R563-pad tussen Krugersdorp en Hekpoort.
“Al twee pasiënte het in ‘n kritieke toestand langs die pad gelê,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24 in ‘n verklaring gesê.
Die wrak van die Harley Davidson-motorfiets waarop die man en vrou gery het, het ‘n ent verder gelê.
“Al twee pasiënte, beide in hul 60’s, het ernstige beserings aan die regterkant van hul liggame opgedoen,” het Meiring bygevoeg.
‘n Helikopter is ontbied om die man vir verdere behandeling na ‘n privaat hospitaal in Johannesburg te neem.
Op pad na die hospitaal het die vrou se toestand vinnig verswak en sy het gesterf. Paramedici het haar tevergeefs probeer bybring.
Owerhede sal die oorsaak van die ongeluk ondersoek.
