‘n Foto van ‘n olifant wat op die N14 van Muldersdrift af na Krugersdorp vervoer is, het reuse reaksie ontlok nadat dit op twitter geplaas is.
Die foto wat aanvanklik deur @1NORMANSTYLES1 geplaas is, wys hoe ‘n olifant op ‘n oop vragmotor lê. Die veiligheid van dié vervoermetode is in ‘n byskrif bevraagteken. Die twiet is selfs op bekende radiostasies bespreek.
Ontstelde mense het weer onlangse berigte onthou van twee kameelperde wat ook op ‘n oop trok vervoer is en wat later in ‘n tragedie ontaard het.
Maar ‘n ondersoek deur die DBV het die hele herrie eintlik ‘n komiese kant gegee toe daar bevind is dat die olifant nie eg is nie maar deel is van die rekwisiete vir ‘n nuwe fliek wat na bewering in Krugersdorp geskiet word.
“SPCA het my gebel die olifant op die trok was ‘n movie prop maar looked very real to me”AH!.. het die twitter-gebruiker later vir sy volgelinge getwiet.
