Verkenners bring Oom Paul se koets huis toe
'n Weergawe van 'Oom' Paul Kruger se koets word op Paardekraal gevestig.
Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika sien daarna uit om Oom Paul Kruger se koets uiteindelik op sy regmatige plek te vestig.
So sê vise-president Sid Mann.
Hy het onlangs die storie van dié koets met die Roodepoort record se joernalis Mathilde Myburgh gedeel. Die koets wat op Saterdag 11 Oktober op die Paardekraal feesgronde by die Paardekraal Monument gevestig en ingehuldig gaan word is ‘n identiese replika van Paul Kruger se oorspronklike koets.
“Die replika is ‘n klompie jare gelede vir die Paardekraal-feeskommissie gebou.
“Aangesien daar destyds nie ‘n veilige manier was om die koets hierheen te bring nie en die beveiliging en beskerming van die koets ook nie verseker kon word nie, is dit nooit hier gevestig nie.
“Paul Voster wat Action Ford in Krugersdorp besit, het dié koets vir ‘n paar jaar op sy perseel vir ons veilig gehou.
“Hy het onlangs na Monument getrek en kon die koets nie veel langer hou nie.”
Mann vertel dat die Verkenners toe aan die werk gespring het om ‘n staanplek vir die koets te reël.
“Ons gaan oor die komende naweek voor die Verkennersfees die Paardekraal Museum afrond en regmaak vir die koets.”
Volgens Mann sal die koets daardie Saterdag met perde na die Paardekraal-feesterrein gebring word.
“Daar sal ‘n konvooi voertuie wees wat dit volg en ons sal vlae laat wapper.”
Die Verkenners veg om Afrikaner geskiedenis en kultuur te behou en onthou.
Die Verkennersbeweging is op 19 Oktober 1989 gestig en sal die naweek van 9 tot 12 Oktober hul 25ste bestaansjaar op die Paardekraal-feesterrein vier. Vir verdere inligting kontak Sid Mann by 083 227 3260./
Verwante artikel:
• Moenie die Paardekraal-fees mis nie
