Talle stroom na kunsmark
Die tweede suksesvolle kunsmark het weereens alle verwagtinge oortref.
Met hul WP- en Leeus-truie aan het talle belangstellendes na die Oppihoekie Kunsmark gestroom om na verskeie kunswerke te gaan kyk en selfs te koop.
Op die eerste dag van die mark, Saterdag 25 Oktober, ook dieselfde dag as die Curriebeker-eindstryd, was organiseerders van die mark oorval deur besoekers uit areas soos Roodepoort, Hartbeespoort en Randfontein.
Dit was die tweede mark wat op die terrein van die NG Gemeente Krugersdorp-Noord gehou is en waar kunstenaars en uitstallers van regoor die land die geleentheid kry om hul werk ten toon te stel.
Die news het die gesellige openingsdag bygewoon en heerlik tussen die verskillende stalletjies rondbeweeg.
Indien kopers nie dadelik ‘n kuns- of handwerkitem wou koop nie, kon hulle in die teetuin ‘n versnaperinkie geniet wat deur lede van die kerk berei is.
Die mark was die res van die week oop sodat oud en jonk van oraloor rustig tussen die stalletjies kon deurbeweeg tot hulle besluit om ietsie te koop.
