Verblyfkrisis vir Mej Wes-Rand
Mej Wes-Rand moet 'n ander woonplek kry nadat 'n brand in die hoofhuis op die perseel waar sy loseer amper ook haar woonstelletjie verwoes het.
Mogale City se nuwe Mej Wes-Rand, Adeline Sauerman, het ‘n verblyfkrisis na ‘n vernietigende brand op die eiendom waar sy loseer uitgebreek het.
Alhoewel Sauerman se woonstel nie direk geraak is deur die tragedie nie, is die struktuur van die woonstel waarin sy woon glo onstabiel en het verswak as gevolg van die brand wat in die hoofhuis gewoed het.
Daar is ook geen water of krag op die eiendom nie en dit word as onveilig beskou omdat die huis ‘n teiken vir misdadigers kan word wat items daaruit wil steel.
Mej Wes-Rand woon dus tydelik by haar broer, maar sy sal ‘n nuwe blyplek voor komende Saterdag 8 November moet kry.
“Ek kyk uit vir ‘n woonstel of ‘n tuinkothuis in die Krugersdorp-area – verkieslik in Monument of Kenmare, wat naby my werk is.”
Sy werk tans as ‘n moderne, kontemporêre en jazz-dansinstrukteur vir albei die Rhythm in us dansateljees aan die Wes-Rand.
“Ek is so bitter dankbaar vir al die ondersteuning van die kerk en publiek wat hul harte oopgemaak het en ingespring het om te help. Daar was binne minute gemeentelede nog in hul kerkklere met tuinslange, reg om die vuur te blus. Ander het probeer om goedere uit die brand te red. Baie dankie vir al die omgee, Krugersdorp.”
Verwante artikel:
• Gesin verloor alles in brand
