Editor's choiceLocal newsNews

Laat die bloed vloei voor die feesseisoen

Die Suid-Afrikaanse Bloeddiens benodig die gemeenskap en hulle gereelde bloedskenkers om hulle moue te kom oprol.

Eksamenstres, vakansiegees en ‘n besige leefstyl is van die faktore wat verhoed dat Suid-Afrikaners gereeld bloed skenk.

Daarom doen die Suid-Afrikaanse Bloeddiens (SANBS) ‘n beroep op inwoners om hulle tyd én ‘n eenheid bloed af te staan voor die besige feesseisoen aan die einde van die maand begin.

Lebo Seatlholo, skakelbeampte van SANBS aan die Wes-Rand sê minder bloedskenkers besoek die Monument Bloedskenksentrum by Monument Checkers in Voortrekkerweg in vergelyking met vorige maande.

Wanneer daar ‘n tekort aan bloedskenkers is, daal die bloedvoorraad wat vir dringend bloedoortappings nodig is.

Seatlholo sê daar is tans genoeg bloed vir 2,2 dae beskikbaar, maar hulle hoop om dit weer tot vier dae te stabiliseer. Dit beteken dat sowat 3 000 mense per dag in die land moet skenk. Die grootste getal skenkers is jongmense waarvan ‘n hele aantal met eksamen besig is en is een van die redes vir die daling in die getal skenkings.

“Daarom pleit ons by die gemeenskap asook ons gereelde skenkers om na ons toe te kom sodat ons julle geliefdes in nood hierdie feesseisoen sal kan help.”

Die Monument-tak is ses dae ‘n week van 8.30vm tot 4.30nm oop behalwe op vakansie- en Sondae. Op Maandae maak die sentrum eers om 1nm oop.

Om mense wat deur die week werk tegemoet te kom, is hulle elke Donderdag tot 6.30nm en elke Saterdag van 8.30vm tot 2nm oop.

Vir meer inligting kontak die SANB Monument-tak op 011 954 0229.

Janine Viljoen, news-redakteur geniet 'n soetigheid terwyl sy regmaak om haar eenheid bloed te skenk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button