Leraar vier tien jaar van diens in gemeente
Leraar sê hy is dankbaar dat die Here hom die geleentheid gegee het om sy gemeente so lank te kan dien.
“Dit is wat God my beveel het om te doen.”
Só het dominee Willem Nel, die enigste voltydse leraar van die Afrikaanse Baptiste Kerk (ABK) in Krugersdorp vir gemeentelede en -vriende gesê tydens ‘n baie spesiale verrassingsdiens die afgelope Sondag 16 November.
Met heerlike lekkernye wat in die kerksaal gewag het, het verskeie gemeentevriende asook dominee Johannes du Preez (ABK President) vir Nel met sy tien jaar van diens in sy gemeente gelukgewens.
‘n Emosionele Nel het kort-kort met sy sakdoek oor sy oë gevee en toe hy die geleentheid kry om almal te bedank het hy net gesê, “God het vir my die geleentheid gegee om vir tien jaar hierdie gemeente te dien en ek kan net dankie sê vir die afgelope dekade wat ons as gemeenskap vorentoe beweeg het.”
Hy het ook geskerts dat hy in sy tien jaar as leraar nog nooit so ongemaklik gevoel het nie.

“As gemeente het ons geplant en saam met die leierskap van die gemeenskap natgegooi.”
Deon Pretorius het namens die Krugersdorp Gemeente gesê dat die Here hulle met so ‘n goeie leraar geseën het.
“Ons is dankbaar vir al die werk wat jy al in die gemeenskap gedoen het.”
Nel het gesê die toekoms van sy kerk sal steeds in die Here se hande bly.
“Vir my gaan dit nie daaroor om die grootste kerk te hê met die meeste lede nie; dit gaan vir my om die Here te bly dien. Daarom gaan niks in my bedieningsfilosofie verander nie.”

Nel se gesin en familielede was ook daar om die geleentheid saam met hom te vier.
Na die spesiale diens het Nel saam met hulle en ander gemeentelede en -vriende heerlik oor ‘n bord kos, koffie en nagereg gekuier.
